Ouma Magrietha se ontberinge gepas herdenk

Blomme is ook van Hartebeespoort, mnr. Van Niekerk se tuisdorp, saamgebring na Standerton en die Swart-familie het eerste vanaf Bergstraat na die die standbeeld deurgeloop om die gewydheid van die oomblik te beklemtoon.

Ouma Magrietha Swart se ontberinge in die Anglo-Boereoorlog is met ‘n standbeeld op Saterdag 15 Junie in die Standerton Konsentrasiekampbegraafplaas gepas herdenk.

‘n Groepie perderuiters het vanaf die Standerton Skouterrein na die begraafplaas gekom en buite gewag tydens die verrigtinge.

Aanwesiges, waarvan sommiges in kakie-uniform, het ook aandagtig na die optog gekyk. Die Standerton Advertiser het die verloop van gebeure getrou gevolg oor dié vrou wat agt kinders aan die dood afgestaan het tydens die oorlog.

Mnr. Rudie Rousseau, ‘n vryskutkameraman van Roodepoort, wat landwyd betrokke by konsentrasiekampbegraafplase is, sowel as die beeldhouer, Jaco van Niekerk, was teenwoordig toe haar kleinseun, mnr. Johan Swart, sy hoed in eerbied afgehaal het voordat die Vierkleur van die beeld verwyder is.

Mnr. Rousseau het in sy toespraak genoem dat die beeldhouer tot die oggend 2vm gewerk het om die standbeeld betyds vir die verrigtinge te hê.

Blomme is ook van Hartebeespoort, mnr. Van Niekerk se tuisdorp, saamgebring na Standerton en die Swart-familie het eerste vanaf Bergstraat na die die standbeeld deurgeloop om die gewydheid van die oomblik te beklemtoon.

Die voetstuk vir ouma Magrietha en ‘n ander een van haar gestorwe kinders, is met sand afkomstig van die Standerton Rivierpark gevul, waar haar gedenksteen vroeër gestaan het.

“Ek het die sand na hom op Hartbeespoort vervoer nadat me. Marianne English van die dorp dit by my afgelaai het,” het mnr. Rousseau tydens ¹n vorige onderhoud gesê.

Ouma Magrietha se liggaamshouding op ‘n stuk doringdraad, met een kind op die heup en ‘n ander wat haar hand vashou, simboliseer dié traumatiese gebeure.

Past. Gerhard Swart van die Volle Evangelie Kerk se Kruis-gemeente het die byeenkoms aan die Allerhoogste opgedra deur die lees van Ps. 78:41 en Heb. 13:7 voordat ‘n gebed gedoen is.

Mnr. Rousseau het sy betrokkenheid die afgelope sewe jaar as ‘n emosionele reis beskryf. Benewens hulp met ‘n vorige skoonmaak van die begraafplaas, het hy ook gehelp om haar gedenksteen te skuif.

Hy het in ‘n destydse onderhoud met die Standerton Advertiser meelewend en vloeiend vertel van die begin van sy belangstelling in die oorlog van 1899 tot 1902 en het besoek afgelê by begraafplase op plekke soos Balmoral, Vryheid, Moorivier, Eshowe, Heidelberg, om ‘n paar te noem, en moue opgerol hier op Standerton.

Die omstandighede waaraan die vroue en kinders onderwerp was, lê hom na aan die hart, vandaar sy produksies oor die oorlog.

Ter plaatse het hy kennis gemaak met van die inwoners soos mnre. Jannie Kasselman, Jannie Degenaar, Ernie Arendt, Riaan Pienaar en me. Marianne English.

Na die oorlog het ouma Magrietha nog geboorte aan drie kinders geskenk, waarvan haar afstammeling, mnr. Swart, en sy gesin, nou moontlik berusting na dié hoofstuk in die Suid-Afrikaanse geskiedenis kan vind.

Vir meer fotos:

https://standertonadvertiser.co.za/93778/galery-ouma-magrietha-swart-se-standbeeld-word-onthul/

Exit mobile version