Rowers skiet bekende veiligheidsman

’n Uitgebreide soektog na die verdagtes is onmiddellik van stapel gestuur en paaie rondom die dorp is gemonitor.

’n Geliefde en gerespekteerde lid van Acsu se personeel, mnr. Hannes “Doef” Duvenhage (67), is verlede Donderdag tydens ’n gewapende rooftog op Ermelo koelbloedig deur die rowers doodgeskiet.

Mnr. Bill Kirk wat saam met mnr. Duvenhage was, is tydens die voorval teen die kop geslaan en is in die Mediclinic Ermelo opgeneem.

Hy is die volgende dag ontslaan.

Volgens ’n woordvoerder van Acsu, het mnre. Duvenhage en Kirk buite die perseel van Tiger Milling in Chris de Villiersstraat stilgehou om geldhouers op te laai.

Nadat die houers in die voertuig gelaai is, het twee gewapende mans op hulle afgestorm.

Verskeie skote is vanaf ’n kort afstand op mnr. Duvenhage geskiet.

Die rowers het te voet van die toneel gevlug.

Paramedici van Life Care Response was vinnig op die toneel en het verbete probeer om mnr. Duvenhage te stabiliseer.

Hy het egter kort na sy aankoms by die hospitaal aan sy wonde beswyk.

Die polisie se misdaadintelligensie-

en K9-eenheid asook Acsu-personeel

en lede van die buurtwag was binne enkele minute op die toneel en ’n beskrywing van die verdagtes is van omstanders verkry.

’n Uitgebreide soektog na die verdagtes is onmiddellik van stapel gestuur en paaie rondom die dorp is gemonitor.

Minute ná die voorval het lede van die soekgeselskap verneem dat ’n vragmotorbestuurder naby die pad na Amersfoort deur twee mans gekaap is.

Die vragmotor is net buite die dorp by die Winkelhaak-depot opgespoor.

Dit het later aan die lig gekom dat die vragmotorbestuurder nie gekaap is nie, maar toevallig op die toneel was toe die skietery uitgebreek het.

Hy het weggejaag uit vrees dat hy ook geskiet sou word.

Die soektog na die verdagtes duur voort.

Oom Doef, soos hy alombekend was, is deur kollegas en kennisse beskryf as ’n saggeaarde, vredeliewende en behulpsame mens.

Hy was vroeër aan die gevangenisdiens op Kinross, Vrede, Bethal en Davel verbonde waar hy as hoof van die gevangenisse gedien het.

Hy het ná sy aftrede by Acsu aange-

sluit waar hy sedertdien werksaam was. Dié geliefde gesinsman vir wie sy twee-jarige kleindogter, Miné, sy oogappel was word ook oorleef deur sy vrou, Malie, twee dogters en’n seun

Begrafnisreëlings vir oom Doef was teen druktyd nog nie bekend nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version