Tommies Wiskundesentrum daar om ‘n goeie fondasie te lê

Wiskunde is nie almal se maat nie, tog vereis die leerplanne dat elke leerder dié, soms nagmerrie-vak, moet neem.

POLOKWANE – Wiskunde is nie almal se maat nie, tog vereis die leerplanne dat elke leerder dié, soms nagmerrie-vak, moet neem. Daar is gewone wiskunde, wiskunde geletterdheid en dan in tegniese skole is daar ook tegniese wiskunde. Almal is egter nie vir wiskunde aangelê nie en daarom sukkel hulle soms met dié vak.

By Hoër Tegniese Skool Tom Naudé het die beheerliggaam koppe bymekaar gesit, om leerders wat sukkel met wiskunde, te help. Die oplossing was om vir Leandré Friedenthal by die skool aan te stel.

Leandré beman die wiskundeondersteuningsentrum en bied wiskundige hulp aan alle leerders wat dit nodig het.

“Ek het nie regtig geweet wat ek na skool wou doen nie, en het besluit om BSc. wiskunde en fisika te studeer. Ek onthou toe ek in die laerskool was, het my ouma my gehelp met wiskunde totdat ek dit onder die knie gehad het. Sy het ‘n groot liefde vir wiskunde gehad en het my gehelp om my fondasies reg te kry vir die vak. Ek glo met die regte hulp en soms ‘n tweede kans, kan meer kinders wiskunde baasraak.”

Leandré vergelyk wiskunde met ‘n huis wat gebou word. “Jy kan nie die bakstene pak as die fondasie nie gelê is nie. As die eerste klompie bakstene ook nie stewig is nie, kan jy nie die volgende bakstene pak nie.”

Leandré kom agter dat leerders met die fondasie van wiskunde sukkel. Sy toets ‘n leerder eers om te sien hoe sy fondasie lyk en daarna gee sy vir hom/haar werk om die fondasie te verstewig. Na elke afdeling is daar ‘n toets en die lesse is in Afrikaans en Engels beskikbaar.

“Ek het reeds ‘n jaar terug aan die projek begin werk, maar is in Januarie eers by die skool aangestel. Ek stel uitdagings aan die leerders om hulle te motiveer en werp die meeste vrugte af by gr. 8 leerders, aangesien hulle mure nog nie so hoog sonder die nodige fondasie gebou is nie.”

Sy stel werkkaarte saam en maak gebruik van talle werkboeke en ou vraestelle wat sy in die hande kan kry. Sy maak ook videos waarin sy stap-vir-stap vir die leerders verduidelik wat om te doen.

“Op die stadium gaan dit my tussen drie en vyf jaar neem om die hele kurrikulum vir gr. 8 tot gr. 12 op te stel.”

maretha@nmgroup.co.za

For more breaking news follow us on Facebook Twitter Instagram or send us a message on WhatsApp 079 418 4404
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version