Meer as 90 diere dalk sonder tuiste einde Oktober

'n Dierewelsynsorganisasie veg vir oorlewing nadat hul huur opgesê is.

Meer as 90 honde en vyf katte sal ’n tuiste voor 31 Oktober moet vind nadat ’n dierewelsyns- en reddingsorganisasie van Akasia in Pretoria-Noord se huurkontrak deur die eienaar van die grond beëindig is.

Die organisasie, 1 Stop Animal Rescue, se terrein en hokke is onder die koeltebome in Eerstelaan in Akasia geleë.

Eienaar Mandi Luther sê dat die organisasie in middel September gehoor het dat hulle nie langer die hokke, badgeriewe, kantoortjie en mediese geriewe vir diere op die grond sal kan huisves nie en ’n ander tuiste daarvoor moet vind.

Luther en haar werkers soos assistent, Vusi Dube, is moedeloos. Ten spyte van die feit dat hulle die aantal diere reeds sedert September van 150 na net onder 100 gebring het deur aannemings, is daar op 14 Oktober nog nie uitkoms vir ’n nuwe tuiste of grond vir die organisasie nie.

Luther, ’n voormalige veeartsontvangsdame, bedryf reeds amper tien jaar die dierewelsynsorganisasie met geld uit haar eie sak, donasies en die R850-aannemingsfooi wat inentings, ontwurming en sterilisasie insluit.

Sy doen ’n beroep op die publiek om diere te kom aanneem aangesien daar ’n wye verskeidenheid van veral gemengde rasse in alle groottes is en 15 babahondjies sowel as vyf katte.

Sy woon in Dorandia en besoek elke dag die terrein waar Dube en nog ’n assistent die publiek help om die diere te besigtig en aan te neem.

Dube reis elke dag van Hammanskraal die afgelope twee jaar om nougeset sy take te voltooi soos om die diere te bad en met hulle te stap.

Luther het die organisasie begin nadat ’n wyfiehond, waarvan die kop met ’n panga gekap was, en dié se kleintjies in die veld gevind het. Sy het haar Mila genoem, versorg en gesond gekry. Mila en haar kleintjies is mettertyd aangeneem.

“Elke dier het sy eie storie,” vertel Luther.

Sy vertel dat hul selfs met die aannemings sukses behaal met honde waarvan pote geamputeer moes word.

Sy het in die 11 jaar as veeartsontvangsdame die kundigheid opgebou om ook basiese behandeling vir siek diere en versorging van wonde te kan gee.

Luther verduidelik dat talle van die diere ingebring word nadat motors hulle op die nabyliggende snelweë gestamp het en sommige honde is straathonde klaarblyklik sonder eienaars.

Daar is ook diegene wat hulle diere inbring omdat hulle nie langer die diere kan versorg nie.

Die areas waarvandaan die diere kom, is meesal vanuit die onmiddellike buurte in die organisasie se omgewing in die noorde van Pretoria soos Soshanguve en Elandspoort.

Luther en haar span kry geen subsidie asook geen hulp van die stadsraad nie.

Alhoewel hulp van veeartse verkry word, moet die organisasie vir die koste instaan en betaal Luther dikwels ook hierdie rekeninge uit haar eie sak.

“’n Halwe maand se kos vir die diere beloop R8 000,” vertel sy.

Luther, ’n enkelma met ’n vyfjarige, befonds talle van die kostes uit haar klein drukbesigheid.

Met haar soektog tot dusver het sy uitgevind dat jy wel by die stadsraad vir grond kan aansoek doen, maar die regulasies bepaal só ’n aansoek kan eers binne 90 dae afgehandel word en dit is tyd wat sy nie het nie.

“Dit is nie vir ons ’n opsie nie en ons bly op die uitkyk vir nog grond wat ons kan huur.”

Tans beslaan die hokke ’n area so groot soos ’n kwart van ’n rugbyveld. Die hokke van diere wat reeds aangeneem is, word tans plat geslaan.

Een van vyf katte waarvoor daar voor 31 Oktober ‘n tuiste gevind moet word.

Ook hieroor is Luther moedeloos aangesien sy nie weet hoe dit vervoer gaan word en waarnatoe nie.

Sy het aanbiedings uit die gemeenskap om te help met die vervoer en daar is ook reeds die naweek vier honde aangeneem, maar haar pogings op sosiale media om die krisis te verduidelik is kortgeknip. Sommige sosiale media maatskappye verbied die advertering van diere.

Volgens Luther is die terrein al dikwels deur die Dierebeskermingsvereniging (DBV) besoek sonder enige reperkussies.

“Ons sal nie ophou om grond te soek of die diere te laat probeer aanneem nie. Daar sal ’n oplossing kom het ek die afgelope tien en meer jaar geleer,” sê sy. “God sal voorsien soos Hy altyd voorsien het.”

Lesers wat die reddingsorganisasie kan help met donasies, aannemings of voorstelle vir grond kan Mandi Luther skakel by 076 207 3640.

Kommentaar is van die DBV versoek maar nog nie teen druktyd ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version