Roubeklaers moet omdraai ná verkeerde graf voorberei is

'n Gesin se hartseer rondom die afsterwe van hul moeder is vererger deur die feit dat haar graf nie voorberei was toe die stoet by die begraafplaas aangekom het nie. Volgens die roubeklaer is grafnommers gedupliseer.

’n Hartseer Danie du Plessis van Pretoria-wes sê dat Tshwane se gedrag rondom die begrafnis van sy ma dit vir die gesin bemoeilik het en daarvoor verantwoordelik was dat die begrafnis nie kon plaasvind nie.

Die begrafnis moes na ’n ander dag uitgestel word al het hulle reeds met die begrafniskonvooi met roubeklaers in die Zandfontein-begraafplaas aangekom.

“Die begraafplaaspersoneel het die verkeerde graf voorberei,” verduidelik ’n ontstelde Du Plessis. “Ons moes ’n tweede begrafnis organiseer.”

Du Plessis se ma is op 10 Augustus oorlede en vir die begrafnis moes sy pa se graf oopgemaak word.

Hy is veral ontsteld omdat die stadsraad se woordvoerder, Lindela Mashigo, ontken dat die fout wat tot die voorval gelei het nie Tshwane se fout is nie.

Du Plessis het aan Rekord verduidelik dat van die grafte in die begraafplaas dieselfde nommers dra.

“Daar is van die grafte waarvan die grafnommers gedupliseer is en dit kan daartoe lei dat so ’n fout gemaak kon word,” vertel hy.

“Maar hoe gebeur dit? Hoe word nommers van grafte in ’n begraafplaas gedupliseer?”

Hierdie graf is verkeerdelik voorberei vir die begrafnis van Danie du Plessis se ma en haar begrafnis kon nie plaasvind soos met familie en vriende gereël nie. ‘n Tweede begrafsnisseremonie moes op ‘n ander dag gereël word.

In stede daarvan om die graf vir sy ma se begrafnis gereed te kry, is ’n ander graf deur die opsigter en werkers by die begraafplaas gereed gemaak vir die begrafnis.

Hy het vooraf, soos deur die begrafnisondernemer versoek, self die begraafplaas besoek om te teken vir die heropening van sy pa se graf.

Omdat die gesin gereeld sy pa se graf besoek, het hy op die dag van sy ma se begrafnis onmiddellik geweet die verkeerde graf is voorberei toe die stoet naderry.

Sy ma se kis sou soos die gebruik in die begraafplaas bo-op die van sy pa rus, maar daar was geen voorbereidng aan sy pa se graf gedoen nie.

’n Nuwe graf is vir sy ma, wyle Thea Petro Pretorius, voorberei.

Nou gee die stadsraad aan dat die grafnommer nie gedupliseer is nie en dat verwarring dus nie kan ontstaan nie.

“Die nommers is gedupliseer en ek kan dit aan hulle gaan uitwys. Ek het self die stadsraad genader en het geen antwoorde hieroor ontvang nie,” sê Du Plessis.

Dit maak hom ook kwaad dat geen munisipale amptenaar die gesin met ’n verskoning genader het nie.

Die begrafnis moes afgestel word en eers ’n paar dae nadat sy pa se graf oopgemaak is, kon Du Plessis en enkele roubeklaers begrafnis hou aangesien diegene wat van ver af gereis het, toe reeds huis toe is.

“Dit het ons almal geraak dat soveel trauma by ons verlies gevoeg is.”

Hy voel dit is tyd dat die metro die begraafplase moet ondersoek om te sien watter regulasies nog toegepas word en toesig oor die begraafplase instel.

Hy vermeld dat die gesin wel van die begrafnisondernemer ’n verskoning ontvang het alhoewel die fout nie voor hulle deur gelê kan word nie.

“Die arme man vertel dit is die eerste keer in sy 54 jaar as begrafnisondernemer dat so iets gebeur,” vertel Du Plessis.

Volgens Mashigo het elke graf die regte nommer volgens die begraafplaas se uitlegplan.

Hy is nie bewus van soortgelyke gevalle in die verlede nie, maar die opsigter by die begraafplaas het wel kennis geneem van die voorval.

Hy verduidelik die proses werk so: Die bedroefde familie doen aansoek om heropening van die graf. By ontvangs van die aansoek gaan die stad die rekords na en identifiseer die graf vir die begrafnis. Dan word opdragte gegee om die graf te open en voor te berei nadat die familie daarvoor geteken het.

Mashigo glo die gesin het wel op die dag van die begrafnis wat nie kon plaasvind nie, ’n verskoning van die personeel gekry.

Hy wou hom nie uitlaat of enige kostes verbonde aan die tweede begrafnis aan die gesin betaal sou word nie.

Volgens hom was daar nog nooit nodig om enige korrupsie rondom die Zandfontein-begraafplaas te ondersoek nie.

– Kliek hier om ’n video van die Zandfontein-begraafplaas te sien.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version