Skole neem met ywer deel aan geskiedenisherdenking in Lydenburg

Kransleggingseremonie word met eerbetoning waargeneem.

Om soveel jong leerders by die jaarlikse kransleggingsgeleentheid by die Burgermonument te sien, was ‘n riem onder die hart.
Só sê Stephan van der Merwe, ‘n onderwyser van Hoërskool Lydenburg, wat die verrigtinge op Vrydag 14 Oktober gelei het. Die bekende Burgermonument is in die NG Moedergemeente se tuine.

Van der Merwe reël jaarliks die geleentheid saam met Fanus en Thea Potgieter. Fanus se pa, wyle Gerhard Potgieter, het meer as 30 jaar toegesien dat hierdie kranslegging nie agterweë bly nie.
Die verrigtinge is deur ds. Riaan Botha van die Hervormde Kerk Lydenburg geopen. Die gasspreker was Michelle Boshoff, wat etlike interessanthede en kort grepe uit Lydenburg se geskiedenis gedeel het.

Chloë Williams, Jayden de Beer en Janus Botes van die CVO Skool Lydenburg.

Leerders van Laerskool Lydenburg, Hoërskool Lydenburg en die Christelike Verenigde Onderwys Lydenburg (CVO Skool) was deel van die groep wat kranse gelê het.
Jayden de Beer van CVO Skool het ‘n toespraak gelewer, waartydens hy die jeug van die land aangemoedig het om die geskiedenis nie te vergeet nie.
Die CVO Skool se krans was ook ter ere aan die vroue en kinders wat in konsentrasiekampe in die Tweede Vryheidsoorlog (1899-1902) gesterf het.

Martie Bezuidenhout en Amanda Wheeler het namens AfriForum Lydenburg ‘n krans ter herdenking aan slagoffers van plaasaanvalle gelê. Dit was ook ter nagedagtenis aan inwoners wat tydens die Covid-pandemie gesterf het.

Martie Bezuidenhout en Amanda Wheeler van AfriForum Lydenburg.

Tradisioneel word die kranslegging altyd aan die pioniere van die dorp opgedra. Hulle is ds. H.J. Neethling (NG predikant tydens die Tweede Vryheidsoorlog), dr. C. Manning (mediese dokter tydens die Tweede Vryheidsoorlog), Landdros Jansen (landdros op Lydenburg, 1866-1895), Meester Willem Poen (die eerste onderwyser op Lydenburg), Willie Steyn (een van die vyf swemmers wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog onderweg na ballingskap op Ceylon ontsnap het), en Elias de Souza (lid van die Volksraad). De Souza was een van die pioniere wat onder meer bygedra het tot die stigting van Hoërskool Lydenburg in 1921. Die krans vir hierdie pioniere is deur Hoërskool Lydenburg gelê.

Kol. Ludi Schulze het onder meer hulde gebring aan troepe wat tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog gesterf het, en die vrouens en familielede wat hul mans en seuns getrou ondersteun het. Hierdie oorlog, vanaf 1966 tot 1989, is ook as die Bosoorlog of die Angola-Grensoorlog bekend.
Laerskool Lydenburg het hulde gebring aan die oudstryders wat in konsentrasiekampe tydens die Tweede Vryheidsoorlog oorlede is.

Kol. Ludi Schulze.
Danie Oosthuizen, Jameila Bezuidenhoudt, Marizelle de Klerk en Hil-Marie van der Merwe van Hoërskool Lydenburg.
At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version