MENINGSTUK – Ermelo-Tussenverkiesing: ‘n Toets van politieke volwassenheid

Dit is egter nie net hier op Ermelo waar politieke gesprekke dikwels tot moddergooiery en persoonlike aanvalle gereduseer word nie

Met 23 Oktober se wyk 7-tussenverkiesing op Ermelo behoort die publiek hul aandag te vestig op die beleidsrigtings en oplossings wat deur die kandidate voorgestel word.

Dit is egter nie net hier op Ermelo waar politieke gesprekke dikwels tot moddergooiery en persoonlike aanvalle gereduseer word nie.

Politieke veldtogte wêreldwyd word dikwels deur beledigings en twiste gekenmerk, eerder as wat die kandidate op die belangrike kwessies wat die gemeenskappe raak fokus.

In Suid-Afrika is daar menige voorbeelde van hoe politieke debatte deur persoonlike aanvalle vervang word.

Tydens die opening van die parlement op 18 Julie het ’n woordwisseling tussen die DA-leier, John Steenhuisen, en EFF-lid, Mbuyiseni Ndlozi, vinnig opslae gemaak.

Terwyl Steenhuisen in sy hoedanigheid as die minister van landbou die parlement toegespreek het, het Ndlozi ingegryp en die Speaker versoek om die korrekte titel vir Steenhuisen te gebruik.

Hy het voorgestel dat daar eerder na hom as ’n ‘matrikulant’ verwys moet word. Ndlozi het verwys na die feit dat Steenhuisen nie ’n tersiêre graad het nie.

Steenhuisen, wat al jare lank in die openbare diens werk, het vinnig gereageer en die EFF-lede Julius Malema en Floyd Shivambu se betrokkenheid by die VBS Bank-skandaal na vore gebring.

Hy het aangevoer: “Ek dink nie die oumas, die pensioenarisse en die stokvellede wat hul geld by VBS verloor het, slaap beter omdat die mense wat by hulle gesteel het meesters- en doktorsgrade het nie.”

Hierdie tipe persoonlike aanvalle en twis is ook volop in die Verenigde State, veral met figure soos Donald Trump.

Trump het vir sy persoonlike aanvalle op politieke teenstanders soos Hillary Clinton, wat hy herhaaldelik ‘Crooked Hillary’ genoem het, en Joe Biden, ‘Sleepy Joe’ volgens hom, bekend geword.

Sulke aanvalle oorheers dikwels die werklike beleidsbesprekings.

Die gevolg van hierdie tipe moddergooiery is dat dit van die eintlike belangrike kwessies wegneem. In plaas daarvan om die gemeenskap se behoeftes en probleme aan te spreek, word politiek ’n platform vir persoonlike vendettas.

Dit stuur die boodskap dat politieke oorwinnings en persoonlike gewin belangriker as die gemeenskap se welstand is.

Hierdie gedrag het tot gevolg dat die publiek nie vertroue in hul leiers het nie en maak dit moeilik vir kiesers om sinvolle debatte oor sake soos dienslewering, infrastruktuurontwikkeling en ander plaaslike kwessies te voer.

Ek het die afgelope paar weke verskeie oproepe en boodskappe van die onderskeie politieke partye ontvang en opgemerk dat daar ’n vlaag politieke teenwoordigheid en aktiwiteite op die dorp is – dit lyk amper asof daar ’n tussenverkiesing voorlê.

O ja! Daar doen! Waar was hierdie partye voorheen, en waar gaan hulle wees as hulle nie die wyk wen nie?

Ek kry die indruk dat elke politieke party net nie uit die gesprek gelaat wil voel nie.

Wanneer daar ’n slaggat reggemaak word, is dit nou asof elke party eis dat hulle daaragter staan.

As korrupsie en onregmatighede, soos wat met die registrasieproses vir die tussenverkiesing in wyk 7 gesien is, aan die lig kom, wil elke party sê dat dit hy was wat dit onder die aandag van die betrokke owerheid gebring het.

Soms word daar krediet geëis vir kwessies wat nog nie eers opgelos is nie, maar bloot omdat dit aan die lig gebring is, moet die politieke party se naam in koerantberigte verskyn.

Die kiesers is nie gepla oor wie verantwoordelik vir die herstel van die dorp se infrastruktuur of die petty politics nie.

Persoonlik is ek net te bly as daar enige verbetering is, ongeag deur watter party dit bewerkstellig is. Inderwaarheid is die beste advertensie vir jou politieke party nie deur al die geleerde politiese praatjies nie, maar deur dade.

Die gemeenskap verdien leiers wat opreg in die behoeftes van die mense wat hulle dien, belangstel.

Ons het leiers nodig wat fokus op werklike probleme wat die gemeenskap direk raak.

Slegs deur toewyding aan die behoeftes van Ermelo se mense en deur konstruktiewe samewerking, ondanks die verskille in beleide wat daar dalk mag wees, kan verandering bewerkstellig word.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.
Exit mobile version