Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


‘Villa Rosa’-ster maak amok in ‘Suidooster’

Die storie neem ‘n wending wanneer Aiden (Theo Jantjies) halsoorkop op die nuwe karakter verlief raak en behalwe daarvoor, gaan die poppe dans . . .


Die aktrise Elsje Slabbert, bekend om haar rol as Carina Rautenbach in die kykNET-sepie Villa Rosa, vertolk nou die karakter van Lisa van Staden in die kykNET-sepie Suidooster.

Suidooster speel af in Ruiterbosch, ‘n fiktiewe woonbuurt in Kaapstad, waar die Suidooster-sentrum is. Dit is die kern van die gemeenskap waar die lief en leed van die inwoners afspeel.  

Ons het met Elsje oor haar nuwe rol, Villa Rosa en ma-wees gesels.

Wie is Lisa en wat maak sy in Ruiterbosch?

Lisa kom as sakevrou in Ruiterbosch aan. Sy is ‘n mediese verteenwoordiger vir ‘n farmaseutiese maatskappy wat probeer om hul produkte op die apteek in Ruiterbosch se rakke te kry. Die storie neem egter ‘n wending wanneer Aiden (Theo Jantjies) halsoorkop op Lisa verlief raak en behalwe daarvoor, gaan die poppe dans . . .

Hoe sal jy Lisa beskryf en van watter karaktereienskappe hou jy?

Lisa het ‘n sterk persoonlikheid. Sy is vreesloos en sal berge versit vir die mense wat sy liefhet. Lisa is doelgerig en kan manipulerend wees as iemand in haar pad staan om haar einddoel te bereik. Sy is ook baie bang vir verwerping en sal enigiets doen om dit te vermy.

Dis die eerste keer in sowat sewe jaar dat jy sedert Getroud met Ruby weer in ‘n sepie speel. Hoe het jy dit ervaar om terug te wees op ‘n sepiestel?

Dis soos fietsry. Daarmee bedoel ek nie dis maklik nie. As jy ná jare weer op ‘n fiets klim is dit moeiliker as wat ‘n mens sou dink. Dit neem ‘n tydjie voordat jy weer jou balans en selfvertroue vind.

Die eerste twee dae op die stel was moeilik. Die vlinders in my maag was heeltemal buite beheer en ek het gesukkel om my balans te hou. Gelukkig het ek van dag drie af my balans gevind. Nietemin het ek elke oomblik geniet.

Wat is vir jou lekker daarvan om in ‘n sepie te speel?

Ek hou van die spoed. Hoe meer tonele per dag, hoe beter. Dis vir my ‘n lekker uitdaging. ‘n Mens hoef ook nooit te wag vir die wolke om weg te gaan of die vliegtuig om eers oor te vlieg nie. Dis lekker!

Wat het ‘Villa Rosa’ vir jou loopbaan beteken en wat is jou gunsteling herinnering?

Villa Rosa sal altyd baie naby aan my hart bly. Ons was ‘n hegte groep mense en van ons is vandag nog deel van mekaar se lewens, al stuur ons net soms ‘n “meme” op Instagram.

Die herinnering wat ek altyd sal koester is die groepstonele waar ‘n mens se klere te styf sit en jou skoene druk, maar ons so vol grappies was dat ons gesukkel het om te fokus en die regisseurs ongeduldig raak. Die onderdrukte lag laat die trane loop, want ons is in die moeilikheid.

Villa Rosa het my ‘n voet in die deur gegee. Dit het aan my die kans gebied om op die rooi tapyt te loop en saam met mense te werk wat ek al van kleins af bewonder.

Jy het ‘n seuntjie en ‘n dogtertjie. Wat geniet jy van ma-wees?

Rubin word in Oktober vier en my dogtertjie, Milan, is nou een jaar oud.

Wanneer ‘n mens ma word, verander jou lewe soveel meer as wat jy ooit sou kon dink. Dit is die moeilikste en belangrikste rol van my lewe en ek word elke dag uitgedaag. Ek het nie ‘n gimnasium nodig met ‘n vierjarige in die huis nie!

Wat ek die meeste daarvan geniet is dat ek nie meer die belangrikste mens in my lewe is nie. Dit maak ‘n mens ook los van kleinighede wat jou dalk in die verlede gepla het.

Om ‘n klein mense te hê wat vir jou kyk en glimlag en jou “Mamma” noem en te weet hy of sy is joune – dit is iets onbeskryflik groot en leer ‘n mens onvoorwaardelike liefde.

LEES NOU: ‘Plaasjapie’: Strategiese stadsjapie van Bellville wen R795 000

Read more on these topics

soapie

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.