Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


Springmieliefeite oor ‘Boer soek ’n vrou’

Pasmaats doen gewoonlik baie moeite om die boere se aandag met hul pakkies en briewe te trek. Maar vreemde geskenke het al hul opwagting gemaak . . .


Boer soek ’n vrou is een van Suid-Afrika se gewildste en langsdurende werklikheidsreekse. En ons gaan weer plaas toe! Donderdagaand om 20:00 skop dié reeks vol intrige die vyftiende keer op kykNET af.

Sedert 2008 volg kykers getrou die lief en leed van boere wat na liefde hunker. Die reeks het met groot sukses daarin geslaag om talle mense se geloof in ware liefde te bevestig.

Hier is ‘n paar interessante feite oor die reeks:

  • Op 30 September 2008 is die eerste episode van Boer Soek ’n Vrou is op kykNET uitgesaai. Kykers het egter ’n paar maande tevore, op 14 Julie, die eerste keer met die reeks kennis gemaak toe ’n loodsepisode van die tien boere wat liefde soek, uitgesaai is.  
  • Wanneer die 16de seisoen vanjaar uitgesaai word, beteken dit dat 160 hubare boere op soek na liefde en hul lewensmaat sedert 2008 op die kassie verskyn het.
  • Boer soek ’n vrou is op ’n internasionale formaat gebaseer en word in tientalle lande vervaardig. Dit is die eerste keer 2001 in Brittanje as Farmer wants a wife uitgesaai. 
  • In Suid-Afrika is die vervaardigers bewus van ten minste 28 suksesverhale van boere wat vanweë hul deelname aan die reeks die pad na die kansel gestap het. Dit maak die plaaslike weergawe van dié maatsoekreeks een van die suksesvolste ter wêreld. Australië se Farmer wants a Wife het teen 2022 oor 12 seisoene slegs nege huwelike opgelewer. 
Boer Joachim Prinsloo. Foto: kykNET
  • Boer Joachim, wat in die eerste seisoen verskyn het, het tot dusver nog die meeste briewe gekry.   
  • Talle vroue-boere het oor die jare ingeskryf, maar dit het eers in 2018 gebeur dat ‘n vrou, boer Toanette, genoeg briewe ontvang het om onder die topvyf boere te wees.
  • Die eerste openlike gay boer, Damian, het in 2019 vir die 12de reeks ingeskryf. Hy het boonop in daardie seisoen ook die meeste briewe ontvang.
  • Ses aanbieders het die afgelope vyftien jaar die land deurkruis om boere in hul soeke na liefde by te staan. Hulle was Elma Postma (2008-2010), Angelique Gerber (2011-2013), Nadia Beukes (2014-2015), Minki van der Westhuizen (2016-2017), Leah van Niekerk (2018-2019) en Marciel Hopkins (vanaf 2020 tot nou).
  • Boer soek ’n vrou-aanbieders trek gemiddeld 50 verskillende uitrustings aan tydens die verloop van die produksie.
  • Ter viering van die die reeks se tiende seisoen in 2017 het die musikant Schalk Joubert die bekende temalied opgekikker. Vir vanjaar se seisoen het Loki Rothman dit verwerk.
  • In 2020 het die Covid-19-pademie ook ’n impak op die reeks gehad en is produksie tydelik gestaak. Ook weens die pandemie, en anders as tevore waar die boere briewe en pakkies in persoon ontvang het, kon voornemende pasmaats in seisoen 13 net in digitale formaat hulself aan die boere bekend stel.
  • Pasmaats doen gewoonlik baie moeite om die boere se aandag met hul pakkies en briewe te trek. Maar vreemde geskenke het al hul opwagting gemaak, waaronder boeie met pienk vere en onderklere met die voornemende pasmaat se gesig daarop.
  • Oor 16 jaar het die vervaardigingspan meer as 600 000 km afgelê soos hulle die land deurkruis het om boere te help om liefde te vind. Dit is byna maan toe en terug. Die maan is sowat 384 400 km van die aarde. 

KYK NOU: Ons ontmoet 2024 se hubare boere

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.