Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


Rian van Heerden se stoel is warm: Hierdie lente word iemand dalk ‘n miljoenêr

Seisoen vier beloof om baie boeiend te wees. Jy sal alle afsprake sal kanselleer, jou selfoon afsit, en jouself op die rusbank tuismaak om niks te mis nie!


Is dit ’n geval van “heerlike lente” vir vasvra-foendies wanneer Wie Word ’n Miljoenêr? in September vir die vierde keer na kykNET terugkeer?

Rian van Heerden, aanbieder van die Afrikaanse weergawe van die wêreld se bekendste vasvraprogram, sal weer die deelnemers se algemene kennis toets wanneer hulle in die warm stoel inskuif. Soos voorheen, is die eerste vangnet vir deelnemers ná die vyfde vraag op R10 000 vasgestel. Daarna kry hulle die kans om hul tweede vangnet tussen die sesde en 14de vraag van die 15-vraereeks te bepaal.

Deelnemers mag net drie van die vier beskikbare hulplyne gebruik, elk slegs een keer. Hulle kan die gehoor vra vir hulp, ’n 50/50-hulplyn gebruik wat twee van die vier moontlike antwoorde uitskakel, ’n vriend bel, of selfs vir Rian vra om met ’n antwoord te help.

Sal iemand dié jaar die R1 miljoen huis toe neem?

Gaan hierdie die jaar wees waarin iemand daardie miljoen rand huis toe neem? Tot dusver het slegs twee deelnemers daarin geslaag om met R500 000 die ateljee te verlaat. Theunis Strydom, ’n sakejoernalis en skrywer, het dit in 2022 reggekry. In die derde seisoen in 2023 het die joernalis Susan Booyens dieselfde prestasie behaal. Sy was net een vraag weg van die groot prys!

Die deelnemers van die vierde seisoen kom uit ’n diverse reeks beroepe, van ’n jong mediese student en ’n rugbyskeidsregter tot ’n waaghals en ’n kerningenieur. En almal is gereed om hul algemene kennis te toets en die R1 miljoen te probeer wen.

Kyk na Susan Booyens se vraag vir R1 miljoen

Theunis Strydom besluit om weg te stap

Gedenkepisode van ‘Wie Word ’n Miljoenêr?vier 2 groot mylpale

Daar is ook ’n spesiale gedenkepisode om twee groot gebeurtenisse in Suid-Afrikaanse TV te vier.

Onthou jy nog waar jy was op 6 November 1999? Dit was die dag waarop Suid-Afrikaners vir die eerste keer op M-Net kennis gemaak het met Who Wants to Be a Millionaire? met Jeremy Maggs as die oorspronklike aanbieder.

En kykNET het ook rede om fees te vier! Op 15 November 1999 het dié gewilde DStv-kanaal die eerste keer uitgesaai. Sedertdien het dit ’n onmisbare deel van Afrikaanse televisie geword.

Vir hierdie spesiale geleentheid is ses van die beste deelnemers van die vorige drie seisoene van Wie Word ’n Miljoenêr? genooi om vir liefdadigheid te speel. Theunis, Susan, en vier ander deelnemers wat elk R250 000 gewen het, sal met vinnige vingers en skerp kennis meeding.

Seisoen vier beloof om baie boeiend te wees. Jy sal alle afsprake sal kanselleer, jou selfoon afsit, en jouself op die rusbank tuismaak om niks te mis nie!

LEES NOU: ‘Boer soek ‘n vrou’: Skryf nou in om jou pasmaat te vind

*Kyk Wie Word ’n Miljoenêr? vanaf Woensdag 4 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).

Read more on these topics

TV shows

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.