Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


Liefde lê op die land! Skryf nou in vir ‘Boer soek ‘n vrou’ en vind jou pasmaat tussen die koring

Wees deel van die oes, manlik of vroulik, wat tydens die 17de seisoen die soektog na hul pasmaat gaan aanpak.


Met die 16de seisoen van kykNET se gewilde reek Boer soek ’n vrou in volle gang, is dit die perfekte kans vir ander hoopvolle boere om in te skryf vir die volgende seisoen wat in 2025 uitgesaai sal word.

Hierdie maatsoekreeks is ’n bewese sukses, met talle Suid-Afrikaanse boere wat reeds die liefde van hul lewens gevind het. Dít is meer as genoeg rede om pen en papier nader te trek en in te skryf!

Marciel parkeer die plaasbakkie

Marciel Hopkins, wat Boer soek ’n vrou van 2020 af aanbied, het vanjaar aangekondig dat sy die plaasbakkie gaan parkeer om ander projekte aan te pak. Nietemin is die lewenservaring wat sy die afgelope vier jaar opgedoen het, vir haar van onskatbare waarde. 

“Jou mensekennis verbreed geweldig baie. ‘n Mens leer om aanpasbaar te wees en op jou voete te dink. Jy leer om altyd ’n spanspeler te wees, maar ook om onafhanklik te funksioneer.”

“Om lief te hê, is een van die grootste geskenke. En dit kom onverwags,” sê sy.

Boere Hennie en Tyson glo die proses werk

Dis egter nie net Marciel wat positief voel oor die reeks nie. Wat dink boer Hennie de Villiers (seisoen 15) daarvan? Hy sy vrou tydens die reeks ontmoet; in Desember 2023 het hy en Eloïse van Heerden voor sowat 100 gaste trou aan mekaar beloof.

“Die proses werk beslis, sê Hennie. “‘n Mens leer meer van jouself omdat jy buite jou gemaksone beweeg. Jou selfvertroue kry ook ‘n hupstoot en jy kan die persoon ontmoet saam met wie jy die res van jou lewe wil deurbring.”

Nog ’n boer wat glo deelname Boer soek ’n vrou is beslis die moeite werd, is boer Tyson Zunckel (seisoen 14). Nie net het hy en Alri Vorster in September 2022 voor die kansel gestaan nie, maar die oulikste klein Nina het tien maande gelede haar opwagting gemaak.

“Jy het niks om te verloor nie. As jy na liefde soek, vat ’n kans en kyk wat kan gebeur. Boer soek ‘n vrou gee ’n mens die blootstelling wat jy nie op jou plaas of by ’n plattelandse sokkie sou kry nie,” sê die gelukkige boer.

“Jy leer om oopkop te bly – dat daar nie ’n spesifieke resep of ‘tiekboksie’ is van hoe ’n mens by liefde uitkom nie. Elke mens se manier is anders, maar dit kan werk,” vertel Marciel oor haar eie ervarings tydens die vier reekse waarvan sy die aanbieder was.

“Vat ’n kans op die liefde. Jou lewe kan in ’n oogwink verander,” is haar boodskap aan boere wat na hulle pasmaats soek.

‘Jy weet nie wat ons weet nie,’ sê boer Niel

Boer Niel Bruwer (seisoen 13) het tydens sy Boer soek ’n vrou-reis liefde by Cheréze Maree gevind. Hulle is nou die trotse ouers van Catrine en kleinsus Joané.

“Wie nie waag nie, wen nie. Ek wou nie inskryf nie, maar my vriende het aan my gekarring en wou my nie uitlos nie. Dis maar ’n dobbelspel. Jy kan of ‘n ongelooflike vrou ontmoet of ‘n ongelooflike journey hê. Jy kan ook albei hê. Dit was heeltemal lewensveranderend.

“As jy kans sien vir die avontuur van ’n leeftyd en jy’s lus vir die onbekende, skryf in. Jou lewe gaan heel waarskynlik vir altyd handomkeer verander.”

Boer Niel sê dis hoe dit ook met die boerdery gaan. Jy weet nie wat môre gaan gebeur nie en jy waag altyd kanse. Vir hom is daar geen twyfel dat boere hierdie kans moet aangryp nie.

Hy het ook ’n boodskap vir diegene wat huiwerig is om in te skryf: “Julle weet nie wat ons weet nie . . . maar jy kan uitvind!”

Wees deel van die oes!

Is jy een van die dapperste alleenloper-boere of plaasbestuurders wat reg is om jou liefdesreis saam met kykNET en Boer soek ’n vrou aan te pak? Wees deel van die oes, manlik of vroulik, wat tydens die 17de seisoen die soektog na hul pasmaat gaan aanpak.

Maak so om in te skryf:

  • Besoek www.kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ’n inskryfvorm kan aflaai.
  • Bel: 079 614 2229
  • Stuur ’n e-pos na boer@wolflightsa.com

Belangrike inligting:

  • Foto’s en afskrifte van geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel. 
  • As jy wil deelneem moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
  • Inskrywings moet die vervaardigers voor middernag op 29 Augustus 2024 bereik.
  • Die toptien boere vir die 17de seisoen sal op Sondag 27 Oktober tydens ’n spesiale uitsending op kykNET aangekondig word. Voornemende pasmaats sal dan die geleentheid kry om vir dié boere briewe te skryf. 

LEES NOU: ‘Boer Soek ‘n vrou’: Kitsafsprake in die Klein-Karoo…wie gaan vashaak en wie gaan wegstap?

Read more on these topics

Boer soek 'n vrou

For more news your way

Download The Citizen App for IOS and Android

For more news your way

Download The Citizen App for IOS and Android