Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


KYK | ‘Boer soek ’n vrou’: Hier is vanjaar se top-5 boere!

As dit van vanjaar se briefskrywers afgehang het, was Suid-Afrika se posdiens kerngesond!


“Om iemand se woorde in jou hande vas te hou en dit in te neem, is ’n kosbare oomblik,” sê Marciel Hopkins, die aanbieder van die 16de reeks van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ‘n vrou.

Vanjaar was daar hope kosbare oomblikke wat die posman behoorlik laat kreun het. Sakke en sakke vol hoopvolle briewe en beloftes is aan hierdie seisoen se hubare boere gestuur.

Om die waarheid te sê, as dit van vanjaar se briefskrywers afgehang het, was Suid-Afrika se posdiens kerngesond!

Die topvyf boere het op ’n onverwagte manier geleer hoe moeilik papierwerk kan wees. Elkeen het net 24 uur gehad om hul toptien briefskrywers te kies om op blitsafsprake met hulle te gaan. Hulle moes ook hulp inroep met al die leeswerk.

Intussen het een van die deelnemers, boer Hendri, 32, liefde gevind en van die reeks onttrek. Hierdie boer is tot oor sy ore verlief en duidelik baie gelukkig!

Boer Quintus Foto: kykNET

Boer Quintus (39) van Winburg, Vrystaat

Marciel het haar kuier by Quintus met die slegte nuus afgeskop: “Jy gaan waarskynlik nie vanaand baie slaap nie. Jy gaan deur al hierdie briewe moet lees!” Daarmee is nog twee boeppensvol sakke met briewe aan hom oorhandig.

“Is ek nou topvyf?”, wou hy weet en triomfantelik met sy vuiste in die lug geslaan.

Kollega Reinier en buurman Kosie was byderhand om hulp, en waarskynlik ook ’n bietjie raad, te verleen.

Boer Daandré Foto: kykNET

Boer Daandré (26) van Brits, Noordwes

Dié jong boer van Brits het gewonder of hy selfs tien briewe sou ontvang. Hy glo vas sy trouvrou is in die drie sakke vol briewe wat Marciel kom aflewer het. Vir hom voel dit soos ’n droom dat daar in die werklikheid meisies daar buite is wat van hom hou. Een van hulle kan dalk dié een wees.

Vriende CJ en Lodewyk se hulp is ingeroep om te help met die briewe en sy toptien te kies.

Boer Jacques Foto: kykNET

Boer Jacques (27) van Venterstad, Oos-Kaap 

Die man wat bekend is vir sy kwinkslae, was baie opgewonde toe hy die sak vol briewe sien wat Marciel kom aflaai het. Hy het verwoed wal gegooi toe Marciel hom vra watter meisie hy wil bel. Uiteindelik was dit ’n bedeesde (en blosende?) Jacques wat met Miné van Pretoria gepraat het.

Vriend Leroy en buurvrou Cara het gretig hand bygesit met die lees en sorteer van die briewe. Leroy was net effens teleurgesteld dat nie een van die briefskrywers vir hulle biltong gestuur het nie.

Boer JW Foto: kykNET

Boer JW (24) van Villiersdorp, Wes-Kaap

Marciel het eers vir JW vertel dat jonger boere wat vir Boer soek ’n vrou inskryf, nog nooit genoeg briewe ontvang het om met die proses voort te gaan nie. Die rede is omdat hierdie ouderdomsgroep so klein is en briefskrywers nie jonger as 21 mag wees nie.

Maar JW het meer as die kwota ontvang – ’n hele paar sakke is vir hom ingedra! Om hom deur die briewe te help werk, het hy op sy suster Alicia en een van sy vriende, DJ, staatgemaak.

Boer Niel Foto: kykNET

Boer Niel (31) van Dannhauser, KwaZulu-Natal

Niel kon sy oë nie glo toe een na die ander sak vol briewe die leefvertrek ingebring word nie. In ’n stadium het hy gesukkel om op Marciel te fokus, want possak ná possak het in ‘n oogwink die ruimte in sy die vertrek oorgeneem.

Niel het die meeste briewe van die seisoen ontvang. En sy vriend André en skoonsuster Nicole was slaggereed om saam met hom deur die honderde briewe te werk.

Alles is nie verlore vir die ander boere nie

  • Vir André wag daar ’n afspraak met Grietjie wat wou weet of hy haar “Hansie” sal wees.
  • Lulani het ’n onverwagte brief uit haar Stellenbosch-dae ontvang van iemand waarvan sy destyds gehou het. Die tyd was egter nie toe reg nie. Dan was daar ook die briefskrywer wie se gedigte haar hartsnare geroer het.
  • Sanel sê sy’t ’n rustigheid in haar en gaan tyd neem om deur die briewe te werk. Daar is immers ’n man in die omgewing wat in dieselfde bedryf as sy is.
  • Ook Janco voel verlig dat hy nie genoeg briewe gekry het om vorentoe te gaan nie. Hy wou nie werklik onder druk geplaas word om besluite te neem nie. Maar wie weet wat sy briewe vir hom gaan oplewer? Ons sal tot die reünie moet wag om uit te vind!

*Boer soek ’n vrou word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

LEES NOU: Springmieliefeite oor ‘Boer soek ’n vrou’

Read more on these topics

Boer soek 'n vrou

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.