Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


‘Diepe Waters’: Juvan en Tomi is aan die roer

Juvan se spontane en impulsiewe persoonlikheid gaan kykers laat wonder wat hy volgende gaan aanvang.


Verlede week het twee vars gesigte hul verskyning in Diepe Waters gemaak, wat die dinamiek van die storielyn opwindend verander.

Juvan Bester, vertolk deur Christiaan Ackerman, is Nelius se kleinseun wat gewoond is aan ’n lewe van luuksheid, terwyl Deoudoné van der Merwe as Tomi – ’n jong, passievolle omgewingsaktivis ook op die toneel verskyn het.

Die twee het op skool uitgegaan, maar die vraag bly: Hoe sterk is hul liefde in die aangesig van verandering en nuwe uitdagings?

Silwer lepels en Swart Marlyne: Juvan se maklike pad

Vertel ons meer oor jou karakter, Juvan?

Juvan is met ‘n silwer lepel in die mond gebore. Hy het ‘n oorvloed selfvertroue en hou van ‘n lekker kuier. Hy swem by die Swart Marlyne, maar net omdat dit aan sy oupa behoort. Juvan verstaan nie regtig wat harde werk behels nie, aangesien dinge gewoonlik maklik na hom toe kom.

Jurgen Hellberg (Nelius) is ’n legende in die TV-bedryf. Hoe voel dit om saam met hom op stel te wees?

Dit is ‘n enorme voorreg om saam met Jurgen te werk. Sy natuurlike spel, reaksies en dialoog is merkwaardig. Ek het so baie by hom geleer en hy laat my gemaklik voel in elke toneel.

Hoe was dit om met die ander akteurs saam te werk?

Die hele span is baie verwelkomend. Daar is ’n warm atmosfeer op stel, en dit het die chemistry vinnig laat ontwikkel, wat weer op die skerm sigbaar is. Hulle het my dadelik laat tuis voel.

Vertel ons meer van jou agtergrond?

Ek kom oorspronklik van Hoedspruit, Limpopo. Op 16 het ek verlief geraak op filmmaak en saam met my broers begin skits maak. Ek het verder studeer en toe reeds oudisies begin doen om ervaring in die bedryf op te bou.

Wat kan kykers van Juvan se storielyn verwag?

Juvan se spontane en impulsiewe persoonlikheid gaan kykers laat wonder wat hy volgende gaan aanvang. Hy is ook nie altyd opreg nie. Juvan is anders as die ander karakters in Diepe Waters – minder gefokus op drome en doelwitte, en meer iemand wat met die vloei van die lewe saamgaan.

Tomi: ‘Diepe Waters’ se omgewingsheldin met ’n ‘quirky’ kinkel

Vertel ons meer van Tomi?

Tomi is ’n fantastiese karakter om te speel! Sy is quirky en soms vergeetagtig, maar ook baie passievol oor die omgewingsbewaring. Aanvanklik was sy baie skaam, maar sy het haar stem gevind danksy haar liefde vir die omgewing. Sy is ook eintlik ‘n baie ernstige mens.

Hoe ontwikkel Tomi en Juvan se verhouding?

Tomi en Juvan het op skool uitgegaan en mekaar gehelp om hul selfvertroue te bou. Maar soos met alle langtermynverhoudings, begin hulle wonder hoeveel hulle nou nog gemeen het.

Hoe voel jy oor jou ervaring op Diepe Waters?

Dit is AWESOME! Ek speel saam met sulke warm, egte mense waarmee ek op en van die stel af werklik goeie verhoudings kan bou. Ek is baie bevoorreg om saam met sulke legendes in so ‘n goeie reeks soos Diepe Waters te speel. En die tegniese span is almal gefokus, vriendelik en baie goed met hul werk. Die cast en crew kuier lekker saam.

Hoe verskil jy en jou karakter?

Tomi het ‘n baie unieke klerestyl, en ek is nie vegan nie, so ek moes regtig haar verwysingsraamwerk ondersoek om haar te verstaan.

Wat was jou hoogtepunte op stel?

Ek grap altyd dat ek bly is ek hoef nie in die koue swembad te swem nie! My ander hoogtepunt was om weer saam met Righard van Jaarsveld te werk nadat ons al in Die Val (2022) saamgespeel het. Diepe Waters is die eerste keer wat ek weer in ’n Afrikaanse produksie verlief raak en ook weer teenoor Righard kan speel.

Wat wag vir Tomi?

Sy gaan mense ontmoet wat haar werklik verstaan en haar stryd teen aardverwarming gaan voort – op elke klein manier wat sy kan bydra.

*Diepe Waters word Maandae – Donderdag om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Dis ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

LEES NOU: Amore Vittone krap dinge deurmekaar in ‘Diepe Waters’ as Leticia

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.