Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


‘Een keer om die son’: Tweede reeks kom met meer onverwagse draaie en hartroerende oomblikke

"Ons het nie besef hoe honger kykers is vir die temas – angs, depressie, selfdood, familie, lief, leed – wat gesprekke oopmaak nie."


Van die eerste episode van Een keer om die son het kykers laat weet hoe hulle met die karakters assosieer.

Die reeks, met Ivan Botha en Donnalee Roberts aan die stuur, het vir 12 episodes die lief en leed van die Van Wyk-familie gevolg.

Dit was ’n realistiese blik op die lewe van ’n familie wat reeds in die eerste episode traumatiese hartseer beleef het. Daar was vreugde en trane, woede en struweling, geheime en eerlikheid.

LEES OOK: ‘Een keer om die son’: ‘n Familie se bitter en soet oor ‘n jaar

Ronél van der Merwe het op kykNET se Facebook-blad geskryf: “Elke episode is net beter as die vorige een.”

Atoofah Fredericks stem saam: “Sjoe, maar dis ’n mooi storie. Goeie akteurs en aktrises. Welgedaan aan die skrywers. Julle verdien ’n Oscar!” Anna Havenga sê sy het nie woorde nie: “Soveel hartseer, lag, ware lewensdrama. Die trane het weer geloop. Die beste reeks. Welgedaan aan die skrywers en elke speler. Puik reeks!”

Kykers is honger vir reeks se temas

Ivan verduidelik waarom die reeks mense so aangegryp het: “Dis ’n kombinasie van dinge wat bymekaar gekom het, maar ek dink nie ons het besef hoe honger kykers was vir die temas – angs, depressie, selfdood, familie, lief, leed – wat gesprekke oopmaak nie. Ons is dankbaar dat ons instrumente in hierdie proses was.”

Donnalee voeg by: “Mense kan hulself in hierdie situasies sien. Almal van ons het al iemand verloor en pyn en verlies ervaar. In Suid-Afrika word sommige dinge bloot onder die mat gevee. Toe ons begin skryf, was dit vir ons belangrik om dit aan te spreek.

“Jou familie is die plek waar jy veronderstel is om die veiligste te voel, maar soms is dit juis die plek waar jy onveilig voel, omdat jy nie die mense naaste aan jou wil teleurstel nie. Een van my gunsteling-kommentare was iemand wat gesê het Een keer om die son gee haar die reg om een keer per week te huil. Dan huil sy sommer oor alles! Dit het soveel heling vir mense gebring.

“Ons is so dankbaar dat mense nie net gekyk het nie, maar saam gevoel het. Ons het honderde boodskappe van oral gekry. ‘n Vrou het selfs in die ry in Woolworths met my begin praat. Toe ek weer sien, praat die hele ry saam oor waarmee hulle kon vereenselwig en waaroor hulle gelag en gehuil het. Die reeks het werklik gesprekke oopgemaak.”

LEES OOK: Albert Maritz: Van ‘Torings’ tot tydreise in ‘Een keer om die son’

‘Een keer om die son’ kom weer

Hoewel Ivan en Donnalee reuse-sukses behaal het met speelfilms soos Pad na jou hart en Vir altyd, was Een keer om die son die eerste TV-reeks wat hulle aangepak het. En nou is die tweede reeks op pad!

Ivan sê glimlaggend: “Ek dink ons het ’n uur nodig om te sê wat ons alles geleer het. Maar ek sal met ’n volgende reeks die drie maande van verfilming meer geniet. Dit gaan so vinnig verby.”

Ivan Botha en Donnalee Roberts aan die stuur van Een keer om die son. Foto: kykNET

Donnalee is vol lof vir Ivan as regisseur: “Ek sê dit nie omdat hy my man, my beste vriend en my vennoot is nie, maar hy is ’n ongelooflike regisseur. Hy het almal op stel gewaardeer laat voel en dit reggekry om onder soveel druk almal kreatiewe vryheid te gee.”

Ivan is selfs meer opgewonde oor die tweede reeks as die eerste. “Daar is soveel lewenservarings waardeur die karakters kan gaan. By my kom die woorde ‘tweede kanse’ op, maar ook ou wonde en ou gewoontes waarin mense verval.

“Daar is ’n paar nuwe karakters, maar natuurlik ook die karakters wat kykers in die eerste seisoen leer ken het. Ons werk hard as ’n span om weer vir kykers alles te gee wat hulle uit die eerste seisoen gekry het.”

*Die beoogde uitsaaidatum van die tweede reeks van Een keer om die son is in 2026. Hou kykNET dop vir meer inligting.

LEES NOU: ‘Een keer om die son’: Die omwenteling is byna voltooi

Read more on these topics

TV shows

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.