Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


‘Boer Soek ‘n vrou’: Kitsafsprake in die Klein-Karoo…wie gaan vashaak en wie gaan wegstap?

In haar brief het Mieke vir boer JW geskryf dat sy al ’n rugbybal vanaf 22m deur die pale geskop het. Sy is ook gek na bier.


Marciel Hopkins, programaanbieder van die gewilde maatsoekreeks Boer Soek ’n vrou, sê die Klein-Karoo is baie romanties. Dis waarom die topvyf boere in Oudtshoorn vir hul kitsafsprake aanmeld.

Boer Quintus sê hy het vroegoggend reeds die ander boere raadgegee. Hulle moet net hulself wees, want dis wat hulle tot hier gebring het.

Boer Jacques, die platjie in die groep, sê: “Ek gaan hom net so van die mou af speel…jissie, jy’t mooi skoene aan!”

Boer JW en boer Daandré gaan elk net nege kitsafsprake hê.

Albei het een briefskrywer gekies wat nie die dag kon bywoon nie. Hulle hoef dus net vier van die dames huis toe te stuur en nie vyf soos die ander boere nie.

Elke blitsafspraak is slegs vyf minute lank en die boere moet hul wekkers stel. So min tyd, so baie om te vra!

Boer Jacques (27) van Venterstad, Oos-Kaap 

Dánika, wat in die vrugte-uitvoerbedryf werk, kom met ‘n boks appels by haar afspraak met Jacques aan. Sy is van Uniondale en baie gelukkig op die platteland.

Denette, van die Wes-Kaap, sal nie huiwer om na KwaZulu-Natal te trek nie, solank sy net in die buitelug kan wees.

Diané vertel vir boer Jacques dat sy nie eintlik TV kyk nie en ook nie nuus lees of luister nie. Kyla vertel vir hom dat sy graag die toneelwêreld wil betree.

Miné, die meisie met wie hy reeds oor die telefoon gesels het, is ’n sangeres wat aan die Universiteit van Kaapstad in opera gespesialiseer het. Boer Jacques erken sy laat hom uit sy diepte voel, maar dit lyk nie asof hy wegskram nie.

Nicole het die Comrades reeds vier keer gehardloop en ’n verbaasde boer Jacques geantwoord met “goeie d*nder!” Hy lag later en sê: “Sy gaan vir my hardloop dat ek k*k”.

Sharezaan stel boer Jacques gerus dat hy enige plek oorsee Afrikaans sal kan praat en niemand gaan hom verstaan nie. Sy kommer is net wie die kos gaan bestel, maar sy sê dat handgebare die oplossing is.

Marlinay sê sy hou van die plaaslewe, veral Bonsmara-beeste.

Gitte is ook ’n drawwer en het ingeskryf vir die Traverse wat by die Kango-grotte aangebied word. Sy het ook al die Meiringspoort-halfmarathon voltooi en beskryf dit as “maklik”.

Wilmi bly op Aliwal-Noord, ’n dorp waarvan boer Jacques glad nie hou nie. Sy lag en sê sy bly net daar, maar kom nie van daar af nie.

Jacques besluit om vir Wilmi, Dánika, Miné, Sharezaan en Nicole beter te leer ken voordat hy drie meisies kies om saam te gaan plaas toe. Diané, Marlinay, Denette, Kyla en Gitte gaan huis toe.

Boer Niel (30) van Dannhauser, KwaZulu-Natal

Aniska is sy eerste kitsafspraak en die komplimente vloei behoorlik van haar kant af.

Emma vertel sy kry energie van mense af, maar het ook nodig om alleen te wees om te herlaai. Niel neem beslis kennis van haar.

Hestia gooi vinnig haar flikkers vir Niel en sê sy lag baie om mense op te kikker.

“Sy kan plaas toe kom,” sê hy later.

Leandri meen sy sal hom opdraande gee as ’n makelaar. Niel, self ’n makelaar, dink hulle twee moet dalk saam ’n onderneming begin. Sy het sy verwagtinge oortref, sê hy.

Bianca spog dat sy heerlike spaghetti Bolognese maak. Boer Niel wonder egter of dit lekkerder sal wees as sy ma s’n.

Daniëlle, wat baie reiservaring het, sê Suid-Afrikaners het hul eie stukkie goud hier.

Marizane erken sy het lank gewag om vir boer Niel te ontmoet. Sy kla omdat sy tydens die afspraak so ver van hom moet sit…

Marjohandé is hou daarvan dat mense dinge saam doen en kwaliteit-tyd met mekaar deurbring.

Boer Niel wil by Mia weet hoekom sy ingeskryf het en ook hoekom sy hom gekies het. Sy sê dis omdat sy kon sien dat hy baie ambisieus is.

Mikal sien binne die volgende vyf jaar een of twee kinders in haar toekoms. Sy is egter nie seker of haar werkgewer sal toelaat dat sy van die huis af werk nie.

Niel wil vir Aniska, Hestia, Leandri, Marjohandé en Mikal beter leer ken. Hy stuur vir Marizanne, Mia, Daniëlle, Emma en Bianca huis toe.

Die meisies is opgewonde om die boere uiteindelik in lewende lewe te sien. Foto: kykNET

Boer Daandré (26) van Brits, Noordwes

Elanya gaan eerste op ‘n kitsafspraak met Daandré. Hulle hou van dieselfde drankies, maar voor hulle hul kerkverbintenisse kan uitklaar, is die tyd verstreke.

Elizette sê sy kan nie glo boer Daandré is werklik ‘n persoon nie, terwyl hy sê dat Jennifer se video hom baie beïndruk het.

Jean-Marie vertel sy het ’n soettand en kan selfs met ’n toffie omgekoop word.

Marisca het ’n sussie wat vyf jaar jonger as sy is en aan die einde van die jaar trou. Sy sê dis tyd dat sy ook plan maak, maar wil daarna op haar tong byt oor wat sy kwytgeraak het.

Boer Daandré wil weet of Lize-Mari gaan aanbly by die oogkundige waar sy nou werk en of sy ander planne het. Sy sê sy sal gaan waar die Here haar heen neem en dat sy gereed is om te trek, waarheen ookal.

Liné is gek na sokkie en verduidelik aan Daandré hoe dié gewilde dansvorm van streek tot streek verskil.

Zandele wil baie graag die tulpe in Nederland gaan kyk en in Duitsland gaan ski. Boer Daandré dink dit klink na ‘n gawe plan.

Hy kies om vir Elizette, Marisca, Lize-Marie, Liné en Zandele. Die einde van die pad breek vir Jean-Marie, Jennifer, Maroné en Elanya aan.

Boer Quintus (39) van Winburg, Vrystaat

Quintus wil by Bianca weet of sy op die platteland sal kan bly. Solank sy nie in beesmis trap nie, sê sy.

Chanelle erken haar senuwees is effens op hol. Corlia is ’n besige meisie, maar sy verseker vir Quintus sy sal tyd maak om ’n bietjie te vry…

Hy wil by Monique weet of sy sing, want daar is vir hom iets in haar stem. Sy sê sy kan glad nie sing nie en skryf dit toe aan “sinus, of dalk hooikoors”.

Emsoné is ’n Afrikaans onderwyseres en sê sy geniet dit baie. Toe sy hoor boer Quintus se ma is ook ’n onderwyseres, wil sy weet of hy ‘n ding het vir onderwyseresse.

Izari val byna letterlik met die deur in die huis toe sy met ’n harde stamp teen die deur binnekom. Sy wil vir boer Quintus ’n skaftien pak met gekookte kos wat onder meer skaapboud, soet pampoen en groenbone sal insluit.

Veronica se ouers bly in Ierland. Toe boer Quintus erken hy kry te gou koud, stel sy voor hulle moet in die somer daar gaan kuier. Hy is meer as gewillig.

Ria word dadelik gekomplimenteer oor haar pragtige rok, wat sy baie waardeer. Sy noem aan Quintus dat haar liefdestaal “gehaltetyd” is.

Natascha bring ’n boksie vir Quintus en sy noem dit ’n Boer Soek ’n vrou-oorlewingspakkie. Hulle het albei kinders, maar hy sê hy’s reg vir nog!

Yolandi sê dit maak haar gelukkig om in die kombuis te werkskaf. Van beesstert tot melktert is niks te veel gevra nie.

Quintus kies om vir Bianka, Monique, Emsoné, Veronica en Ria beter te leer ken voordat hy iemand plaas toe nooi. Hy stuur vir Yolandi, Natascha, Izari, Corlia en Chanelle huis toe.

Boer JW (24) van Villiersdorp

Boer JW ontmoet eerste vir Celine. Sy sê die hitte het haar grimering laat verdwyn, maar dis ook goed so. Nou kan hy sien hoe sy in haar “natuurlike staat” lyk.

Danelle D is volgende aan die beurt. Sy noem ook dat sy herlaai as sy tussen mense is. Die kwessie van energie vier hoogty, want Danelle sê dat sy energy bursts kry die oomblik wanneer mense dink sy is teruggetrokke.

Michaela kom op krukke aangehobbel vir hul kitsafspraak. Benewens haar studies, beplan sy ook om haar kommersiële vlieglisensie te verwerf. Boer JW sê hy is skrikkerig vir hoogtes, maar sy kan hom dalk daarmee help…

Lize wil net ’n grondpad sonder heuwels hê om op te draf. Boer JW se opmerkings ná hul afspraak, laat dit klink asof die twee dalk saam daai grondpad kan draf.

Nicolene vertel sy doen gereeld goed wat buite haar gemaksone is. Sy is ’n adrenalienslaaf wat van “goeters wil afspring”.

Nevé wil meer hoor oor JW se “hondjies,” maar hy help haar gou reg en sê dis “eintlik honde, want dis Rottweilers”.

In haar brief het Mieke vir boer JW geskryf dat sy al ’n rugbybal vanaf 22m deur die pale geskop het. Sy is ook gek na bier.

Yvelna het ’n groot liefde vir die Kalahari en sy geniet braaivleis. Sy braai self en sê haar braaibroodjies is uit die boonste rakke.

JW wil vir Danelle D, Michaela, Nicolene, Nevé en Mieke beter leer ken. Hy stuur vir Danelle K, Lize, Yvelna en Celine huis toe.

Nog tyd met die meisies

Volgende week op Boer Soek ‘n vrou kry die boere meer tyd om die meisies wat hulle gekies het, beter te leer ken. Elke boer moet drie pasmaats kies wat ‘n week lank op die plaas gaan kuier.

Boer Soek ’n vrou word Donderdagaande om 8nm op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

KYK NOU | ‘Boer soek ’n vrou’: Hier is vanjaar se topvyf boere!

Read more on these topics

Boer soek 'n vrou

For more news your way

Download The Citizen App for IOS and Android