Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


Bekendes maak harte oop teenoor Lee-Ann van Rooi

Onder die gaste met wie Lee-Ann gesels is Fanie de Villiers, vroueregte-aktivis Lucinda Evans, rock-sanger en liedjieskrywer Francois van Coke.


Die bekroonde aktrise en teatermaker Lee-Ann van Rooi, wat vir baie ’n mentor in die TV-, rolprent- en teaterwêreld is, voeg nou aanbieder van ’n geselsprogram by haar indrukwekkende loopbaan.

In Waar daar ’n wil is voer Lee-Ann diepgaande gesprekke met ’n verskeidenheid bekendes. Dit sluit vermaaklikheidsfigure tot politici, aktiviste en baanbrekers in. Elke gas deel hul reis na sukses, wat wys dat waar daar ’n wil is, daar altyd ’n weg is.

“Dit is eerlike gesprekke met Suid-Afrikaners wat werklik ’n verskil gemaak het en die kern verteenwoordig van wat ons as nasie uniek maak,” sê Lee-Ann oor die program.

“Ons gaste het drie dinge gemeen: Hulle is uiteenlopend, hulle het ’n positiewe impak gemaak en hulle is bereid om hande te vat met mense van wie hulle verskil om saam die wêreld ’n beter plek te maak.”

Sy beklemtoon ook hoe ’n gemaklike omgewing geskep is waarin die gaste hul stories kan deel. “Ons verskille is wat ons as nasie sterk maak. Ons is nou gereed om dit te vier,” voeg sy by.

Hoewel die tekste deur Ricardo Arendse en Francois Nolte geskryf is, het Lee-Ann se eie perspektief en hart ook in haar aanbieding deurgeskemer. Sy gee nietemin toe dat sy gespanne is oor hierdie nuwe uitdaging in haar loopbaan.

Kyk hier na die lokprent van Lee-Ann se geselsprogram:

Elke episode is 30 minute lank. Dit sluit ook ’n spesiale insetsel in wat fokus op ander fasette en mense in die gas se lewe.

Onder die gaste met wie Lee-Ann gesels is Fanie de Villiers, vroueregte-aktivis Lucinda Evans, rock-sanger en liedjieskrywer Francois van Coke, Mej. Suid-Afrika Mia le Roux en die voormalige Springbok en adjunk-burgermeester van Kaapstad, Eddie Andrews.

“Die voorbereiding vir Waar daar ’n wil is is heeltemal anders as vir ’n rol,” sê Lee-Ann. “Dis ’n nuwe genre vir my. Ek is geëerd om hierdie nuwe vaardighede in hierdie stadium van my loopbaan aan te leer. Gewoonlik skuil ek agter ’n karakter, maar hier moet ek ‘n bietjie van myself wys. Dit is ’n groot uitdaging, maar soos hulle sê, as dit jou nie bang maak nie, groei jy nie!”

*Waar daar ’n wil is begin op 4 Oktober om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook beskikbaar wees op DStv Stream en Catch Up.

LEES NOU: Diepe Waters: Juvan en Tomi is aan die roer

Read more on these topics

TV shows

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.