Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


Albert Maritz: Van ‘Torings’ tot tydreise in ‘Een keer om die son’

Die gesinslede is gehamer deur hul omstandighede, maar hulle het tog die grondslag van integriteit en goeie bedoeling om hulle daardeur te dra, sê hy.


Die akteur Albert Maritz het diep spore in die Afrikaanse TV-bedryf getrap sedert bekend geword het as die rebelse Herman Roodt in Konings en Torings.

Hy is nou te sien as Sebastian van Wyk in die kykNET-reeks Een keer om die son. Albert se karakter is ‘n professor in entomologie en ‘n saggeaarde man, pa en oupa wie se vrou vierkantig op sy kop sit.

Die reeks vertel die verhaal van liefde en uitdagings binne ‘n familie oor ‘n kalenderjaar.

Die aarde neem ‘n jaar om een keer om die son te beweeg. Elk van die 12 episodes in die reeks verteenwoordig ‘n maand in die karakters se lewens waartydens ‘n mengsel van hoogte- en laagtepunte, asook die bitter en soet belig word.

“Sebastian is ‘n karakter waarvoor ‘n mens bloot met die lees van die manuskrip lief word,” sê Albert “Die skrywers het die leeueaandeel van die werk gedoen. Baie van die skryfwerk is so eg dat dit my bloot tydens die speel daarvan meegevoer het.”

Die reeks handel oor die lewens van egte mense. “Die terugslae en kraaineste waarin die karakters verstrengel raak, is nie noodwendig elke mens op straat se lot nie, maar Jan Publiek sal met soortgelyke ervarings kan identifiseer.”

Miere, kakkerlakke en huwelikskanse

“Om vir die rol voor te berei het Ivan Botha, regisseur, voorgestel dat ek die uithouvermoë van miere bestudeer. Ek kon só tydens die verfilming notas en tekeninge in my eie handskrif op my lessenaar hê,” vertel Albert.

Insekte is die grondslag van Sebastian se studie. Hy maak hulle nie dood nie, maar red hulle. Hy gee ook vir sy kleindogter Sophia miere in ‘n hokkie om te versorg.

“Sy verhouding met een kakkerlak, Bennie, is merkwaardig,” sê Albert. “Dit is delikate werk deur die skrywers. Soos wat Sebastiaan op ‘n unieke vlak met insekte volhard, volhard hy met sy geloof in die huwelik. In die proses offer hy dalk sy huwelik op vir gevorderde studie ter wille van entomologie.”

‘Conscious uncoupling’

In die eerste episode kondig Elma, vertolk deur Joanie Combrink, pas ná die aftelling na Nuwejaar aan dat sy en Sebastian “consciously gaan uncouple”. Daarna uiter sy ‘n vrolike “gelukkige Nuwejaar!”

Sebastian se grootste tekortkoming is dat hy nie verstaan dat Elma van hom verwag om sy belofte gestand te doen deur af te tree en saam met haar te reis nie. Dit is al wat hy moet doen, sê Albert.

“Hy is heimlik boos oor Elma se plan. Soos hy elders sê: ‘Watse k*k is hierdie?’ Was hy iemand anders het hy ‘n vloermoer gegooi. Maar sy geaardheid is te beskaafd en gaaf. Hy weet dat hy versigtig moet trap om enige hoop op herstel met sy vrou lewend te hou.”

Oor sy toneelspel saam met Joanie sê hy: “Joanie was mos al ‘famous’ toe ek nog ‘n skoolkind was. En is sy nie pragtig nie! Sy is ‘n gedugte aktrise. Sy maak nie foute nie”.

‘n Belofte van somer

Sebastiaan word deur die loop van die reeks deur verskeie krisisse binne sy familieverband gekonfronteer – die dood van Lanie, sy seun dr. Ruan van Wyk se vrou, Ruan se hardkoppigheid en ook sy vrou se hunkering.

“’n Lekker toneel was ook saam met Donnalee Roberts, wat Amé vertolk. Sy waar vind uit dat haar man haar verneuk het. Sebastian se pa-instink skop in en hy neem onbewustelik standpunt in namens haar. Tog kies hy, baie volwasse, nie kant nie, vertel Albert. “Maar sy weet heimlik hy is daar vir haar. Pleks daarvan om sy varkies te verloor, systap hy die dinge waaraan hy niks kan doen nie. Hy gooi sy gewig in by situasies wat by sy steun sal baat.”

Een keer om die son het ‘n positiewe gevoel daaromtrent. Die gesinslede is gehamer deur hul omstandighede. “Tog het hulle die grondslag van integriteit en goeie bedoeling om hulle daardeur te dra. Is dit nie asof elke openingstoneel die belofte van somer inhou nie?” sê-vra Albert.

*Een keer om die son wys Dinsdae om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144. Episodes sal ook op Catch Up op DStv Stream beskikbaar wees.

LEES NOU: ‘Een keer om die son’: ‘n Kragtige beligting van ‘n familie se bitter en soet oor ‘n jaar

Read more on these topics

kykNET TV shows

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.