Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


Silwerskermfees: ‘n Moslem-begrafnis (janazah) met ‘n lag by die traan

"Ek wou hê die film moet alle aspekte van ’n Moslem-begrafnis belig – van al die komplekse en uitdagende dinge tot die dinge wat dit mooi, uniek en kosbaar maak."


‘n Moslem-begrafnis (janazah) en die kulturele gebruike wat daarmee saamgaan, verloop soos ’n geoliede masjien, sê die skrywer, regisseur en akteur Quanita Adams. In haar jongste film, Hier.Na dreig dinge egter om hand uit te ruk. Met ‘n lag deur die traan word die kyker deur hierdie belewenis begelei.

Die Burgess-familie woon in die noordelike voorstede van Kaapstad op ‘n heuwel onder ‘n kruis. Hulle is ‘n moderne, kultureel-diverse Suid-Afrikaanse gesin.

Eric is sekulêr en sy vrou, Juleigha, wat verkies om Julie genoem te word, is ‘n nie-praktiserende Moslem. Hulle het twee kinders, Dean en Leila, wat elkeen hul eie pad volg. Dean is ‘n professionele aanlyn-gamer, terwyl Leila ‘n mediese student, haar Moslem-identiteit herontdek het. Dit irriteer haar ma geweldig.

Toe Julie onverwags aan ’n hartaanval sterf, neem Leila die leiding om vir haar ‘n Moslem-begrafnis te reël met die hulp van Julie se ma. Hierdie situasie veroorsaak intense spanning en konflik, aangesien die familie jare se onderliggende probleme en emosies in die gesig staar, alles binne die grense van een onstuimige dag. Maar almal moet nou saamwerk om te verseker dat Julie, volgens Moslem-tradisie, voor sononder begrawe kan word.

Adams se ontdekking van rou en familiebande

Hier.Na, wat op vanjaar se Silwerskermfees in Kaapstad vertoon is, is ‘n besinning oor haar pa se janazah, sê Adams. “Op so ’n dag, voordat die son sak, is daar honderde mense in die huis, daar is kos oral, en dinge gebeur vinnig. Ek het in die Moslem-gemeenskap grootgeword het en baie janazahs bygewoon, maar wanneer een van jou naaste familielede wegval, kry jy ’n nuwe perspektief op begrafnisse, die rouproses, jou familielede en die manier waarop ons mekaar almal mekaar in dié tyd ondersteun.

“Ek wou hê die rolprent moet alle aspekte belig van wat dit beteken om ’n Moslem-begrafnis te ervaar – van al die komplekse en uitdagende dinge tot die dinge wat dit mooi, uniek en kosbaar maak.

Omdat dit ’n besinning oor my pa se begrafnis was, het ek dit ook as ’n geleentheid gebruik om my gedagtes, idees en gevoelens uit te druk, nie net oor die dood nie, maar spesifiek oor die manier waarop ons in my gemeenskap begrafnis hou.

Hoe begrafnisse ons almal verbind – ‘n verkenning

Die film spreek tot ’n gevarieerde gehoor – van mense met binnekennis van die Moslem-geloof en -gebruike, tot diegene wat nie veel daarvan weet nie.

Ons almal sterf eendag, sê Adams. Die maniere waarop ons afgestorwenes begrawe verskil, maar die kern daarvan is universeel. Dit gaan daaroor om die lewe wat verby is te gedenk.

“Die helfte van my familie is Christene, dus was die film ook ’n manier om te sê dat die onderskeie gemeenskappe verskillende benaderings het en dat daar iets moois in al daardie benaderings is. Soms is daar iets pragtigs, spesiaal en belangrik daaraan vir ander mense, al lyk die kulturele gebruike soms vir jou vreemd of snaaks. So, ek hoop mense kry iets daarvan in die film.

Nie ‘n dokumentêr nie: ‘n Unieke kykie op janazah en empatie

Omdat hierdie nie ’n dokumentêr is nie, was dit vir haar ’n unieke ervaring. “Ek wou nie vir mense iets leer oor die janazah nie. Maar jy moet mense inlaat en hulle die geleentheid bied om kwesbaar in hul onkunde te wees, en ook nuuskierig, en jy moet hul nuuskierigheid en kwesbaarheid met simpatie hanteer. Jy kan mense nie veroordeel oor hul gebrek aan kennis nie, maar in dieselfde asem is hierdie nie ’n dokumentêre reeks met nuusinsetsels oor hoe Moslems hulle mense begrawe nie.”

Die span moes dus maniere vind om die karakters van buite die Moslem-gemeenskap te gebruik op ’n wyse wat natuurlik en oortuigend oorkom. “En die beste manier om dit reg te kry is om karakters te skep waarmee die gehoor kan identifiseer. Terselfdertyd moet Moslems hulself ook in die film kan herken.”

In heelparty opsigte is hierdie nie sommer net nog ’n fliek vir my nie; dit is ’n refleksie oor rou en dood, en spesifiek oor my pa se dood, vertel Adams.

“Omdat so baie lede van die geselskap en tegniese span hul naastes – moeders en vaders – so onlangs soos ’n paar weke voordat verfilming begin het, aan die dood moes afstaan, het ek besef dat die film daardie mense moes huldig.

“Dit was vir my belangrik om vir hulle plek te hou in die fliek, en ek het besluit om hulle in die memoriamrol en die eindkrediete in te sluit. Dit het aan die geselskap, tegniese mense en lede van ons produksiespan die geleentheid gegee om die film aan hulle geliefdes op te dra.”

Kyk hier na die lokprent van Hier.Na.

*Die Silwerskermfees word tot Saterdag in Kampsbaai aangebied.

LEES NOU: Van TV-loos tot top-joernalis: Wyngaard se Silwerskermfees-sukses

Read more on these topics

TV shows

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.