Entertainment

Van rugbypaal tot rolprentrol – My f*k, Marelize word ‘n fliek

Die virale video van Marelize Horn wat met ‘n fiets teen ‘n rugbypaal vasry, het selfs daartoe gelei dat T-hemde daarvan gemaak is. Nou is sy weer in die kollig, maar hierdie keer gaan die Horns almal op die skerm wees.

Die vervaardiging van die film getiteld My F*k, Marelize is Woensdagmiddag tydens ‘n middagete by vanjaar se Silwerskermfees aangekondig.

Ongeluksvoël inspireer film

Die film speel in Windhoek af en is geïnspireer deur die ware gebeure wat tot die ikoniese rugbypaal-voorval gelei het.

Advertisement

Dit volg die lewe van die ongeluksvoël, Marelize Horn, terwyl sy voorberei om as au pair na Nederland te vertrek terwyl haar ma, Heidi, sukkel om ‘n kankerdiagnose te verwerk.

“Hierdie film gaan almal verras,” sê Brett Michael Innes, die Safta-bekroonde draaiboekskrywer. Innes is bekend as regisseur van onder meer Sink en Fiela se Kind.

“Mense sal moontlik dink die fliek is gegrond op die frase ‘my f*k, Marelize en ‘n klugkomedie verwag oor ‘n tiener wat heeltyd teen goed vasloop. Die verhaal van die Horns het egter baie meer diepte.

Advertisement

‘n Viering van die lewe

Zandré Coetzer, bekend as televisieregisseur van Dinge van ’n Kind en mede-vervaardiger van die bekroonde reeks Donkerbos wat twee Safta-toekennings verower het en internasionale sukses behaal het, maak met hierdie fliek haar debuut as speelfilmregisseur.

“Die storie is ’n viering van die lewe,” sê Coetzer. Sy vertel dat dit ‘n warm blik gee na hoe mense in Namibië en Suid-Afrika uitdagings met grappies en ‘n glimlag oorkom.

Sy het heelwat tyd saam met die Horns deurgebring om die gesin se dinamika te ervaar. “Dit met my ‘n duidelike visie vir die film gegee. As ’n Afrikaanssprekende is dit werklik spesiaal om my taal, kultuur en mense te vier in ’n storie wat gaan oor ons humor en manier om die lewe aan te pak.”

Advertisement

Die Horn-familie – Marelize, Heidi, Tiaan en Wilmari – was van die begin af betrokke by die projek. Hulle het hul huis en lewens vir die produksiespan oopgestel en die verfilming begin in September.

Van Facebook-boodskap tot fliek

“Dit is ongelooflik hoe hierdie ding aanhou groei,” sê Marelize in ‘n verklaring. “Toe ek verlede jaar onverwags ‘n Facebook-boodskap van Brett ontvang oor sy planne om ‘n fliek oor ons gesin te maak, het ek nie geweet wat om te verwag nie. Nou is hulle gereed om te begin skiet en ek kan nie wag om te sien hoe ons ervarings op die skerm tot lewe kom nie.”

Die film is ‘n Namibiese en Suid-Afrikaanse ko-produksie. Joel Haikali en Sophie Haikali van Joe Vision Productions in Windhoek het met Kaapstad se Nagvlug Films en Nostalgia Productions saamgewerk. Pepe, wat in 2024 vir die Berlinale gekies is, is ook deur hulle vervaardig. Paulo Areal, bekend om Ellen: Die Ellen Pakkies Storie en Five Fingers for Marseilles, is ook deel van die vervaardigingspan.

Advertisement

Befondsing is van die Nasionale rolprent- en Videostigting (NFVF), kykNET Films en MultiChoice Namibië verkry.

*Die Silwerskermfees word van Woensdag tot Sondag in Kampsbaai aangebied.

LEES NOU: Albert Maritz: Van ‘Torings’ tot tydreise in ‘Een keer om die son’

Advertisement

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.

Published by
By Carien Grobler
Read more on these topics: film