Entertainment

‘Plaasjapie’: Strategiese stadsjapie van Bellville wen R795 000

kykNET se werklikheidsreeks waarin stadsjapies hul staal as plaasjapies moet wys, se wenner het gewys hy is sy sout werd. In die tweede seisoen van die reeks het Blue Kester (39) uitgeblink en die finale uitdaging gewen. Benewens die titel as Plaasjapie, het hy ook R795 000 in sy sak gesteek.

In die finale episode moes Blue teen Anelda Price (24) en Michelle de Waal (42) meeding in ‘n uitdaging wat verskeie vorige take gekombineer het. Hulle moes trappe met hooibale bou, balanseerbalke en wipplanke trotseer en ‘n emmer met die kleinste moontlike emmertjie vul.

Blue het die meeste van die tyd die voortou geneem en ten spyte van moedige pogings deur Anelda en Michelle, was hy die eerste om sy soutsilo oop te sluit, wat hom die prysgeld besorg het.

Advertisement

Plaasjapie met ‘n plan

Uit die staanspoor toe die stadsjapies op die plase Groenkloof en Oranjezicht aankom, was dit duidelik dat Blue ‘n unieke strategie gehad het. Al was sy hande nie altyd so besig soos sommige deelnemers wou sien nie, het hy met slim kopspeletjies bondgenootskappe gevorm wat tot aan die einde in sy guns getel het.

“Dit was 100% Game Blue. Ek het vroeg vir myself gesê ek gaan met my kop speel en nie met my hart nie. Ek moes Plaasjapie strategies hard speel omdat ek geweet het ek is nie ’n fisiese bedreiging nie,” sê hy.

Een van sy grootste strategiese skuiwe het hom amper uitgeskakel. Dit was toe hy ‘n bladsy uit Riaan Snyder (30) se boek geleen het om homself die teiken te maak om uitgestem te word. Riaan wou huis toe gaan, maar Blue nie – hy het immers ‘n bonus-pekelpennie gehad. Hy wou seker maak sy bondgenoot, Monique Hobkirk (42), bly deel van die reeks ten koste van Liovian Anderson (40) of André Mouton (44).

Advertisement

Shocked oor die slaai

“Baie mense mag dalk nie saamstem met hoe ek die game gespeel het nie, maar dit het my veilig gehou, Koöperasie-kuier ná Koöperasie-kuier, en het my gevat tot in die topdrie wat dit moontlik gemaak het om te wen. En daarvoor is ek dankbaar,” sê die Plaasjapie-wenner.

Hy hoop ook dat daar geen kwade gevoelens van die ander deelnemers teen hom is nie.

Dit was nie net bloed, sweet en strategie op Plaasjapie nie; daar is ook gesels en gebraai. En natuurlik ‘n paar verrassings.

Advertisement

“My snaaksste oomblik was om die shocked gesigte te sien toe ek veilig is tydens die kook-uitdaging. Niemand het verwag dat ’n slaai die beste gereg van die dag gaan wees nie. Wel, niemand seker behalwe ek nie, want daai slaai was amazing!” sê Blue.

Wat hou die toekoms in vir Blue?

“Natuurlik is dit my groot droom om miskien eendag vir Survivor in te skryf.”

Maar eers gaan die prysgeld gebruik word vir die hoofrede waarom hy vir Plaasjapie ingeskryf het – om die lewe vir sy ma en ouma gemakliker te maak.

Advertisement

Hou die skerm dop. Die kans is goed dat Blue weer sy strategie op die kassie gaan inspan.

LEES NOU: Ons ontmoet 2024 se hubare boere