Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


Mel die Storieverteller se kanon van komiek: Lag vir die lewe se absurditeite

In haar tweede verhoogstuk, Dik Deurmekaar, gesels sy op ‘n satiriese wyse oor hoe mense van mekaar verskil. Sy steek die draak met mense se obsessie met visvang, die volkslied, fancy karre en slimfone.


Sy het ‘n besonderse talent om die humor in alledaagse dinge raak te sien. Haar oog vir die komiese en absurditeit van die lewe lei tot stories waarmee almal kan vereenselwig.

Met ‘n skerp sin vir ironie en ‘n liefde vir die onverwagte, weet Mel du Toit, onder haar aanhangers bekend as Mel die Storieverteller, hoe om haar gehore te laat skaterlag, altyd met ‘n glimlag op haar eie gesig.

Sy het van kleins af stories geskryf, vertel dié internetsensasie wat met haar debuutproduksie, Almal is mal, 400 sitplekke in die Atterbury-teater twee weke voor die openingsaand uitverkoop het.

Daarna het haar loopbaan vlamgevat en as ‘n mens na die blad kyk waarop sy toekomstige vertonings adverteer, is dit duidelik dat sy haar gehoor behoorlik aan die brand praat.

“Ek het as kind wakker gelê en stories uitgedink. Elke storie moet ‘n einde hê en ek raak geheg aan die karakters. Ek het altyd gedink almal is so, maar het eers later besef dat ek ‘n unieke talent het,” vertel sy.

@mel_die_storieverteller

♬ original sound – Mel die Storieverteller

‘n Passie vir stories en vertelling

Op skool het Mel se ma vir haar Nataniel se boek Tuesday, ‘n versameling kortverhale, aangeskaf. Sy het dan die tekste verkort, gememoriseer en by die skool opgevoer.

“Ek is ook ‘n groot fan van Tolla van der Merwe en het die stories wat hy destyds op die TV-program Maak ‘n Las vertel het, opgeneem sodat ek die woorde kon leer en dit met ‘n rugbyhoed, -trui, en boeppens kon vertel.”

Mel sê sy het gesien hoe die kinders en onderwysers dit geniet. “Om stories te vertel, kom vir my natuurlik.”

Dit is waarom sy dit soms “push” by haar vertonings en nie net hou by die materiaal wat sy voorberei het nie.

“Soms raak die mense stil. Dan sê ek marineer ‘n bietjie op daai idee, dit is die werklikheid. My stories en grappe gaan oor dinge waarmee almal kan identifiseer. Oor die dinge wat mense nie noodwendig wil erken nie, maar wat ook deel is van hul lewe.”

‘n Reis van YouTube na TikTok

Mel het aanvanklik ‘n gehoor vir haar stories op YouTube geskep waar sy onder meer met die musiekgroep Jan Jan Jan se liedjie Wys jou vleis die draak gesteek het.

Sy het daarna in 2021 ‘n TikTok-kanaal begin en ook haar inhoud op Facebook begin plaas waar sy onderskeidelik 227 000 en 72 000 volgelinge het.

Hoewel TikTok se inhoud oorwegend Engels is, het Mel die besluit geneem om haar kanaal Afrikaans te hou. “Hoewel ek al twee Engelse video’s gemaak het wat viral gegaan het, het ek ‘n doelbewuste besluit geneem om my inhoud Afrikaans te hou,” sê sy.

@mel_die_storieverteller Replying to @heinrich sjoe – daar was ongelooflike mooi outfits die jaar – ek kan nie rerig baie fout vind nie!!! Sjo!!! Stunnin’ #greenscreen ♬ original sound – Mel die Storieverteller

Tussen 2009 en 2020 het Mel “’n klomp lewens in verskillende lande met té veel verskillende haarstyle gelei”. Sy het onder meer as taal- en kunste-onderwyser gewerk, projekbestuur gedoen en haar hand aan spookskryf gewaag. “Ek het iets van alles gedoen, van kroegvrou tot gesiggieverf-tannie en kostuumverhurings.”

Terug in Suid-Afrika het sy oudisies vir akteursrolle begin doen. “Ek het nooit ‘n rol gekry nie. Ek het later gedink dat hulle dalk met my kostuums sou sukkel omdat ek groter gebou is!” skerts sy.

@mel_die_storieverteller Replying to @candycebruce1 ♬ My Story – Aditya Cipta Gumilar

“Die mense by Binnelanders het my later geken, want ek was daar vir elke oudisie. Op ‘n dag het ek vir hulle gevra of ek my tyd mors en of ek enigsins potensiaal as akteur het. Hulle het my verseker dat ek wel potensiaal het.”

Daarna het Mel in drie episodes van die reeks verskyn. “Ek kan nie eers onthou wat my naam was nie. Ek het nege lyne gehad en iemand het my hare gekleur!”

Sy het toe besluit dat sy nie meer haarself kon uitlewer aan die besluit van ander mense oor wie ‘n rol sou kry nie.  

Mel die Storieverteller word gebore

“Een middag in 2020 onder ‘n akkerboom, ná ‘n bottel sjampanje en ‘n koppie vol deurmekaar trane, het daar ‘n wit veer op my kop geval. Mel die Storieverteller is daardie dag gebore,” vertel sy.

Ná groot sukses op sosiale media was sy gereed om ‘n vertoning op die verhoog aan te pak. “Ek het besluit as ek dit doen, gaan ek groot. Ek het op die Atterbury-teater besluit en van die Kaap af Gauteng toe gevlieg.”

Die enigste opening wat beskikbaar was, was op ‘n Dinsdagaand. “Ek het dit gevat, maar ek dink die mense van die teater was baie skepties oor of dit sou werk. En toe verkoop dit uit!”

Die komiese teks vertel die storie van die 21-jarige Mel se avonture in Londen. Sy het toe besef dat die wêreld eintlik ‘n mal plek is. Sy deel onder meer grappige voorvalle oor die drie mense waarmee sy ‘n kamer moes deel en beskryf die drie vlakke van ‘n huispartytjie. Mel stel ook haar dronk alter-ego, Melissa, aan die gehoor bekend.

@mel_die_storieverteller

Uittreksel uit my one woman show “Almal is Mal” by Heroes in Brackenfell.

♬ original sound – Mel die Storieverteller

“Ná daardie aand het die e-posse begin instroom. Vier maande later moes ek ‘n agent aanstel om my besprekings te hanteer. Ek wil nie die administrasie doen nie. Ek wil stories skryf en vertel, dít is my talent,” sê Mel.

Sy is baie lief vir haar gehoor, sê sy verder. “Ek sê voor elke vertoning vir myself vanaand gaan oor die mense in die gehoor. Hulle moet afskakel en van hulle stres vergeet.”

@mel_die_storieverteller

Dankie Huisgenoot LOVE JULLE – maar bel volgende keer vir ‘n foto’tjie 🤣🤪

♬ original sound – Mel die Storieverteller

Dik Deurmekaar: ‘n Dieper betekenis agter die lagtrane

In haar tweede verhoogstuk, Dik Deurmekaar, gesels sy op ‘n satiriese wyse oor hoe mense van mekaar verskil. Sy steek die draak met mense se obsessie met visvang, die volkslied, fancy karre en slimfone.

Tussen al die gelag, is daar altyd ook ‘n element in haar vertonings wat dieper is as ‘n blote grap. “In Dik Deurmekaar is die boodskap dat die lewe oor meer gaan as om klippe na ander se glashuise te gooi. Mense sê dikwels ná ‘n vertoning vir my dat die boodskap hulle getref het.”

Die lewe is net lekkerder as jy ophou worry hoe jy lyk in jou costume by die see — Mel die Storieverteller. Foto: Verskaf

Mel is ook ‘n voorstander daarvan dat vroue hul liggame moet aanvaar. “Body confidence lê my baie na aan die hart. Dit was egter nie my bedoeling om hierdie boodskap deel te maak van wat ek op sosiale media doen nie, dit het net gekom. Dis die lekkerste lekker as ‘n mens ‘n inspirasie vir ander kan wees sonder dat jy dit beplan.”

@mel_die_storieverteller

Ek is ‘n lopende Baby reveal – 💙🎀 🤣🙏🏼

♬ original sound – Mel die Storieverteller

Sy plaas dikwels ook video’s waar sy haarself grimeer terwyl sy komiese sketse doen. “Ek het besef dat ek nie voor elke vertoning twee ure by ‘n grimeerkunstenaar kan spandeer nie en het toe myself begin leer. Ek het nooit eens onderlaag gedra nie, maar nou gee ek wenke vir vroue om maklike grimering te doen, want almal van ons se tyd is beperk.”

Oor drome en planne vir die toekoms, sê Mel daar is baie. “Maar ek hou dit vir myself en deel dit eers wanneer dit ‘n werklikheid word!”

@mel_die_storieverteller

Luister! Ek kort net weer bietjie normaal… die glitz en is wonderlik, maar nou kan ek dit nie meer glo nie 🙌🏼

♬ original sound – Mel die Storieverteller

LEES NOU: [WATCH] SA gets SpongeBob SquarePants in isiZulu and Afrikaans

Read more on these topics

comedy

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.