Entertainment

Van seun sonder TV tot top-joernalis: Heindrich Wyngaard se Silwerskermfees-sukses

Die seun wat sonder ‘n TV in die huis grootgeword het, is benoem in die kategorie vir beste aanbieder van ‘n joernaalprogram op vanjaar se Silwerskermfees.

Heindrich Wyngaard, bekende joernalis, radio- en TV-programaanbieder en nou ook die uitvoerende hoof van die burgerregte-organisasie Kaapse Forum, sê as God se seëninge vir jou deurkom, kom dit sterk deur.

Wyngaard is benoem vir Kô Lat ons Praat (KLOP!), wat sedert April 2018 tot Junie vanjaar op kykNET en Kie uitgesaai is.

Advertisement

‘KLOP!’ Gee bruin gemeenskappe ‘n stem

“Wat KLOP! spesiaal gemaak het, is dat dit ‘n stem gegee het aan gewone mense in bruin gemeenskappe – diep in die platteland en van oor die hele land,” het Wyngaard aan The Citizen gesê. “Sover my kennis strek, was daar nog nie voorheen ‘n soortgelyke program nie.”

Wyngaard sê dit is vir hom belangrik dat daar steeds so ‘n program moet wees, “omdat die bruin gemeenskap (en bepaald die Afrikaanssprekende bruin gemeenskap), ‘n afskeep-ervaring het wanneer dit kom by mediaplatforms en hoe hulle daar verteenwoordig word.”

Die naam van die program is afgelei van wyle prof. Adam Small, filosoof, digter, skrywer en meningsvormer, se gedig Kô Lat ons Sing. “Dit is op sigself ‘n aanduiding van die fokus van die program en watter stem, of tongval, dit aan die kyker moet bied wat inhoud en die teikengehoor betref,” sê Wyngaard.

Advertisement

“Die formaat van die program is vasgelê tydens ‘n werksessie nadat ek ‘n gesprek met Karen Meiring, destydse kanaalhoofvan kykNET gehad het. Ek het aan haar genoem dat ek daarvan sal hou om die sogenaamde late night Amerikaanse programme na te doen sonder ‘n orkes in die ateljee. Ek wou vermaak, aktualiteit, gesprek, geskiedenis en kultuur as deel van die mengsel aanbied.”

Trots bruin: Wyngaard huldig invloed van legendariese denkers

Wyngaard sê ‘n groot invloed op sy denkprosesse van skooldae af, was mense soos Small en prof. Richard van der Ross. Van der Ross was die eerste bruin rektor van die Universiteit van Wes-Kaapland en ‘n deurslaggewende figuur in hoër onderwys in Suid-Afrika. Hy was instrumenteel in die universiteit se oorgang van ‘n kollege na ‘n outonome en inklusiewe universiteit.

“Hulle het my denke gevorm oor trots bruin wees. Trots op jou bruinheid om jouself steeds in enige geselskap te laat geld.”

Advertisement

As seun van die Overberg, maar ook seun van ‘n bruin lokasie op die platteland, is dit vir hom ‘n besonderse eer om benoem te wees uit die duisende wat benoem kon word en hierdie eer met hulle te deel, sê hy.

KLOP!-sukses weergalm, selfs ná laaste klop!

“Ek was ook so gelukkig om in 2023 die Silwerskerm-toekenning as beste aanbieder van ‘n gespreksprogram te ontvang. Soos verlede jaar is dit ongelooflik en ook iets wat ‘n mens nederig maak. Dit kom saam met ‘n groot stuk opgewondenheid, want ek verteenwoordig ‘n klomp mense wat nooit die geleentheid gekry het en steeds nie die geleentheid kry nie.”

Hoewel dit vir hom hartseer is dat KLOP! tot ‘n einde gekom het, is hy bly dat die program se sukses selfs nadat dit van die lug af is, erken word met ‘n benoeming vir hom as aanbieder.

Advertisement

Ondanks die feit dat hy ‘n ambassadeur vir Afrikaans is, sal hy Engelse werk doen as dit oor sy pad sou kom, sê Wyngaard. Vir vir nou fokus hy egter op sy dagtaak by Kaapse Forum.

“Ons fokus spesifiek op die versterking van bruin gemeenskappe. Op ‘n manier is dit ook ‘n voortsetting van die werk wat ek as aanbieder van die KLOP! gedoen het en wat ek nog al die jare doen as rubriekskrywer, joernalis en meningsvormer doen.

“Ek keer maar altyd terug na die onderwerp wat my naaste aan die hart lê, naamlik die wel en weë, die lot, van die bruin gemeenskappe in Suid-Afrika.”

Advertisement

*Die Silwerskermfees word tot Sondag in Kampsbaai aangebied.

LEES NOU: Silwerskermfees: Almal wil ‘n skyfie van ‘Koek’ hê

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.

Published by
By Carien Grobler
Read more on these topics: TV shows