Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


Boer soek ‘n vrou: ‘Ek wens die liefde kom soos ’n p**p . . . onverwags’

Boer Jacques glo in liefde, want “daar moet magic wees” terwyl liefde vir boer Quintus ’n goeie wegspringplek is, maar “liefde is nie net iets wat jy kry en nou’s dit klaar nie. Liefde is harde werk”.


Die borrelende Marciel Hopkins, aanbieder van die 16de reeks van kykNET se gewilde maatsoekreeks, is slaggereed om weer, soos die afgelope seisoene sedert 2020 waar sy die aanbieder van die reeks was, boere oor die land heen te help liefde vind.

Die boere praat oor liefde

“Om te boer, is soos om iemand lief te hê, want elke dag het sy uitdagings.” Dis die woorde waarmee boer Janco vanjaar se eerste episode van Boer soek ’n vrou, afskop.

“Liefde maak my terselfdertyd bang en opgewonde, maar die onbekende in die lewe is die goed om na uit te sien,” sê boer André.

Vir boer Lulani is liefde “wanneer jy jouself, sonder enige filter, vir my wys wanneer ek sê dis perfek, dis wonderlik, dis presies wat ek wil hê.”

“Om te boer . . . dit gaan oor groei. In liefde is dit dieselfde. Jy laat mekaar groei en dinge bereik en jy bereik dit net deur liefde vir mekaar te hê,” sê boer Jaandré.

Boer Jacques glo in liefde, want “daar moet magic wees” terwyl liefde vir boer Quintus ’n goeie wegspringplek is, maar “liefde is nie net iets wat jy kry en nou’s dit klaar nie. Liefde is harde werk”.

“Ek weet hoe dit voel om iemand te verloor waarvoor jy lief is. Dis hoekom elke dag so belangrik is en die pad na liefde is om weer daai lewensmaat te vind wat vir jou oneindig lief is,” sê boer Sanel.

“Ek sal weet wanneer ek liefde gevind het, want die persoon sal so diep in my hart inkruip – ek sal voel met daai gut feeling . . . hierdie is die regte keuse,” kom dit van boer Niel.

Boer JW voel op sy beurt dat sy groot huis baie leeg is en dat daar beslis plek vir twee is. En vir boer Henri is besluite van die hart soms moeilik, veral as daar besluit word dis die mens met wie jy jou lewe wil deurbring. Hy beplan nie om om meer as een keer voor die kansel te staan nie.

Boer Niel hoop op ‘n bonus vir vanjaar se oes – ‘n mooi brief van ‘n oulike dame. Foto: kykNET

Marciel ontmoet vyf van die boere

Boer Niel (saai- en veeboer) – Dannhauser, KwaZulu-Natal:  Hy erken sy hande is nie gemaak vir praktiese goed nie, maar veel eerder om die skip se stuur vas te hou. Hy hoop op ’n bonus vir vanjaar se oes – ’n mooi brief van ’n oulike dame . . . Hy mis die veiligheid om kwesbaar te kan wees by iemand vir wie hy omgee.

Boer Jacques (skaap- en beesboer) – Venterstad, Oos-Kaap: Dié lewendehawe-bemarker geniet sy werk baie omdat hy op die manier by boere uitkom en na hulle stories kan luister. Maar hy noem dat daar nie baie tyd is vir verhoudings nie.

Boer Lulani (bees- en skaapboer) – Philippolis, Vrystaat: Sy kry dit reg om Marciel te leer om ’n koei vir dragtigheid te ondersoek – beslis ’n eerste! Sy glo ook die liefde is nie iets wat jy beplan nie en dit vang ‘n mens dikwels onkant.

Boer Daandré (groenteboer) – Brits, Noordwes: Hy glo vas jy moet onder begin om te waardeer wat jy het. Dan kan jy vorentoe gaan.

Boer Jacques soek rooi lippies. Foto: kykNET

Hoe gaan die boere weet wie is die regte een?

Boer Jacques soek rooi lippies en glo vas hy gaan van die eerste oomblik weet wie die regte een vir hom is. Hy soek iemand wat daar sal wees vir hom, en nie iets anders nie . . .

Boer Lulani soek op haar beurt iemand wat saggeaard is en gaaf teenoor haar is. “Elke mens verdien liefde en ek voel daar is definitief iemand wat 100% by my sal pas en 100% my malgeit sal aanvaar.”

Oor ’n lieflike waatlemoenskyf, vertel boer Daandré hy het alles oorgegee en sy wens is dat dit kom “soos ’n p**p . . . onverwags”. En sy hart is reg om vorentoe te beweeg.

Boer Daandré wens die liefde kom “soos ’n p**p . . . onverwags”. Foto: kykNET

KYK OOK: Ons ontmoet 2024 se hubare boere

Marciel ontmoet die res van die boere

Boer Hendri (gemengde boerdery) – Dewetsdorp, Vrystaat: Hy en Marciel het mekaar sowat 10 jaar gelede op kampus geken. Tot haar groot verbasing sê hy dat hy ’n bietjie aan die stillerige kant is. Hy geniet die fisieke kant van plaaswerk omdat hy ook die resultate kan sien van wat hy elke dag doen.

Boer Sanel (wild- en beesboer) – Dwaalboom, Limpopo: Nadat haar man aan Covid-19 gesterf het, het sy klippe gekou en deurgebyt. Sy glo sy gaan weer ’n maat kry en al is dit dalk nie daardie perfekte deksel nie, maar as hy weet wat die liefde is en God ken, sal dit pas.

Boer Janco (Gemengde boerdery) – Colesberg, Vrystaat: “Ek wil net ’n beter ek wees. Ek kan nie vir ander mense daar wees as ek nie solid is nie.” Hy erken dat hy baie hard op homself is omdat hy nie daarvan hou om mense teleur te stel nie. Hy ingeskryf het want “daai mooi donkerkop of mooi blonde loop nie hier tussen die koppietjies rond nie”.

Boer André (Vee-, wild- en pekanneutboer) – Naboomspruit, Limpopo: Hy het tot dusver die liefde vermy omdat hy nie wou seerkry nie. Nou het hy ’n kopskuif gemaak en besef as hy nie nou waag nie, gaan daar dalk nooit ’n geleentheid kom om sy eie familie te hê nie.

Boer JW (Appel-, pere- en skaapboer) – Villiersdorp, Wes-Kaap: Vir hom is die belangrikste dat sy meisie nie vir almal mooi hoef te wees nie, solank sy net vir hom mooi is. Hy wil ook nie baie spesifiek wees nie, want dalk is sy droomvrou heeltemal anders as die idee wat hy in sy kop het.

Boer Quintus (Gemengde boerdery) – Winburg, Vrystaat: Hy hou daarvan om dinge self reg te maak en te verander soos wat hy daarvan hou. Soos die ou tafel wat hy by die skool gekoop het en pragtig gerestoureer het. Die onthulling van die blad het Marciel se asem weggeslaan, want op die nuwe blad het hy die Boer soek ’n vrou-logo aangebring. En hy’s gereed om te settle . . .

Boer JW se meisie hoef nie vir almal mooi te wees nie, solank sy vir hom mooi is. Foto: kykNET

* Boer soek ’n vrou word op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. 

LEES NOU: Springmieliefeite oor ‘Boer soek ’n vrou’

Read more on these topics

Boer soek 'n vrou

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.