Entertainment

Adendorffs se verhaal herleef: ‘Nêrens, Noord-Kaap’ se 2de hoofstuk begin

Die lang wag is verby. Drie broers met ‘n bitter pa. Sal die Adendorffs ooit vrede kan vind?

Toe die dramareeks Nêrens, Noord-Kaap in 2021 die eerste keer uitgesaai is, was kykers onmiddellik vasgevang in die lief en leed van die Adendorffs en die mense om hulle. Nou, ná wat soos ’n eindelose drie jaar gevoel het, het die tweede hoofstuk van hierdie aangrypende verhaal uiteindelik Dinsdagaand afgeskop.

Nêrens, Noord-Kaap is soos ’n geskenk wat sorgvuldig in dun papier toegedraai is en met geduld oopgemaak en waardeer moet word. Waldimar Pelser, die M-Net-kanaaldirekteur vir Premium-kanale, het die reeks by die onlangse Silwerskermfees in Kaapstad beskryf as ‘n kunsrolprent wat in episodes verdeel is.

Advertisement

Kan liefde die pyn oorwin?

In Deel I vind drie vervreemde broers hul pad terug na die ouerplaas, Nêrens, waar geheime, hartseer, en die waarheid oor hulle ma se dood op hulle wag.

In Deel II probeer die broers en hulle pa om mekaar weer ná jare van vervreemding te leer ken. Maar hoe leer jy om lief te hê wanneer die pyn van ’n ma se dood steeds diep in almal se harte ingegraveer is?

Elkeen van die hoofkarakters en die akteurs en aktrises wat hulle speel, is terug vir Deel II. Frank Opperman is Pa Lourens, Geon Nel is Frans, Albert Pretorius is Ronnie en De Klerk Oelofse is Andries.

Advertisement

Kyk hier na die amptelike lokprent van ‘Nêrens, Noord-Kaap’:

Nico Scheepers: Van verhoog na die kleiner skerm

Die bekroonde Nico Scheepers is die skrywer en regisseur van die reeks. Dit is gebaseer op sy toneelstuk Nêrens, Noord-Kaap, wat in 2017 by die Vrystaat Kunstefees in Bloemfontein debuteer het met Geon, Albert en De Klerk in die rolverdeling.

Toe Nico deur kykNET genader is om die stuk in ’n dramareeks te omskep, het hy aangedring op dat die rolle van die broers deur Geon, Albert en De Klerk vertolk moes word. En dit het inderdaad gebeur.

Nêrens, Noord-Kaap Deel II sal die finale seisoen van hierdie uitsonderlike reeks wees. “Dit is die einde van die storie,” verduidelik Nico oor die besluit om dit Deel II in plaas van seisoen 2 te noem. “Dis soos ’n boek met 26 hoofstukke. Deel I was die eerste 13, en Deel II is die laaste dertien. Episode 13 van Deel II is soos om die laaste hoofstuk van ’n storieboek toe te maak.”

Advertisement

Vyf feite oor Deel II, episode 1

  1. ‘n Klein filmspan, met regisseur Nico Scheepers en kinematograaf Chris Lotz, het na Nederland gereis om die tonele met Andries (De Klerk) en Fleur (Melissa Willering) te verfilm.
  2. Die toneel met Pa Lourens tussen die kokerbome is op die plaas Gannabos in die Nieuwoudtville-omgewing verfilm. Gannabos huisves die grootste kokerboomwoud in die Suidelike Halfrond. Hoewel kokerbome na bome lyk, is dit eintlik vetplante wat tot die aalwynfamilie behoort.
  3. Die merk aan die lammetjie wat aan die begin van die episode met die draad om die nek gesien word, is met grimering aangebring.
  4. Melissa Willering speel nie net Fleur nie – sy het ook die onderskrifte van haar Nederlandse woorde en die Engelse vertalings behartig.
  5. Spoegwolf se Sambreeltjie is die liedjie wat speel wanneer Andries en Fleur by Frans se partytjie op Lorrie se plaas aankom.

*Kyk saam elke Dinsdag om 20:00 op kykNET&kie, DStv-kanaal 144. Nêrens, Noord-Kaap Deel II is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

LEES NOU: Een keer om die son: 2de reeks kom met meer onverwagse draaie

For more news your way

Download our app and read this and other great stories on the move. Available for Android and iOS.

Published by
By Carien Grobler
Read more on these topics: TV shows