Avatar photo

By Carien Grobler

Deputy Digital Editor


‘Een keer om die son’: ‘n Kragtige beligting van ‘n familie se bitter en soet oor ‘n jaar

Die musiek en kamerawerk in Een keer om die son voeg 'n merkwaardige laag van diepte en atmosfeer by die reeks. Kleur word effektief aangewend om tussen die seisoene te onderskei.


Die nuwe kykNET-dramareeks Een keer om die son vertel die verhaal van liefde en uitdagings binne ‘n familie oor ‘n kalenderjaar.

Die aarde neem ‘n jaar om een keer om die son te beweeg. Elk van die 12 episodes in die reeks verteenwoordig ‘n maand in die karakters se lewens waartydens ‘n mengsel van hoogte- en laagtepunte, asook die bitter en soet belig word.

Die reeks is die akteurspaar Ivan Botha en Donnalee Roberts se eerste TV-reeks. Botha is die regisseur en hy en Roberts is medeskryfwerks saam met Liani Jansen van Rensburg, Retief Scholtz en Tina Kruger. Roberts is ook as Amé Cloete te sien in die reeks, wat in en om Kaapstad verfilm is.

Ander bekende name in die rolverdeling sluit in Albert Maritz, Joanie Combrink, Jacques Bessenger, Jana Kruger, Ludwig Binge en Liam Bosman wat naam gemaak het in die TV-novelle Diepe Waters, waarin hy die rebelse Johan vertolk het.

In die eerste episode is daar reeds drama en komedie wanneer Combrink, in die reeks die 67-jarige Elma van Wyk, pas ná die aftelling na Nuwejaar aan haar familie sê dat sy en hul pa (Albert Maritz wat die 67-jarige prof. Sebastian van Wyk vertolk), besluit het om “consciously the uncouple”. Daarna uiter sy ‘n vrolike “gelukkige Nuwejaar!”

Musiek en kamerawerk het intense impak op die kyker

Die musiek en kamerawerk in Een keer om die son voeg ‘n merkwaardige laag van diepte en atmosfeer by die reeks. Kleur word effektief aangewend om tussen die seisoene te onderskei.

Die musiek dra by tot die emosionele impak van elke toneel deur die gebruik van subtile melodieë wat die gemoedstoestand van die karakters en die toneel versterk. Dit skep ‘n atmosfeer wat die kyker dieper in die verhaal intrek.

Die kamerawerk is opvallend en uitnemend. Dit skep ‘n visuele ervaring wat die verhaal versterk en die kyker in staat stel om die emosies van die karakters op ‘n intieme vlak te ervaar.

Saam skep die musiek en kamerawerk ‘n sinergie wat Een keer om die son ‘n kragtige en aangrypende kykervaring maak. Dit wys hoe tegniese uitmuntendheid en kunstigheid kan saamvloei om ‘n intense impak op die kyker te hê.

LEES NOU: Mel die Storieverteller se kanon van komiek: Lag vir die lewe se absurditeite

*Een keer om die son word Dinsdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.