Juffrou Retha trek die deur toe na ’n vlooimark vol opgewonde oomblikke in haar klaskamer

Retha en Jan gaan nou slaap daar waar die son sak.

Na meer as 40 jaar voor die swartbord tree me. Retha Zwiegelaar af.

Retha, wat die departementshoof van die grondslagfase by Laerskool Krielpark  en 20 jaar by die skool klas gegee het, het haar klaskamer se deur vir die laaste keer die week toegetrek.

“Dis nie dat ek wil nie, ek moet, ek is al 65 jaar oud,” het sy met ’n aansteek-laggie in haar stem gesê.

Haar wederhelfte, Johan wat in Julie afgetree het, het dit so mooi gestel en gesê hulle gaan vir ’n jaar slaap daar waar die son sak. Die twee wou gaan toer.

Hulle het ’n aftreeplekkie naby Klein Kariba gekry en het besluit dis daar waar hulle die holte van hulle voete gaan vind en dit is ook naby twee van hulle drie seuns en hul gesinne.

Oor die kinders wat sy in haar 40+ jaar liefgekry het, kan sy boek skryf.

“Die Here het altyd die regte kindertjies na my toe gestuur om voor klas te gee, dit was altyd vir my ’n voorreg om hulle te verwelkom in die begin van die jaar. Dis waar die rolle omgeruil het, want skielik was die kinders myne en ek het hulle met hul ouers gedeel.”

 

Op die vraag wat gaan sy die meeste mis het sy sonder om twee keer te dink gesê, “My kollegas gaan ek die meeste mis. Die lewe is soos deure en die eerste deur waardeur jy stap is die een as jou ouers die nuwe klein mensie die eerste keer huis toe bring. Party deure is donker, ander weer kleurryke deure en in die gang van my lewensreis het ek by verskeie deure verbygegaan en ook vertoef. Nou vat ek ’n oomblik en ek wil graag dankie sê vir dié deure waarby ek ’n oomblik kon stilstaan en bietjie van jou afskuur.”

Retha het nog strykdeur gepraat en gesê sy is getroud met die ongelooflikste man.

“Dié spesiale man het elke oggend my sak en boeke in die kar gelaai. As ek laataand nog boeke gemerk het, het hy koffie aangedra. Johan is my steunpilaar en my beste vriend.”

Dié juffrou wie se motto in die lewe is om beter te wees as wat sy gister was, laat diep voetspore in die onderwys.

Menige skaam haasbekkie van weleer steek seker hand op en sê dié juffrou was my juffrou.

“Dankie is in dankbaarheid geanker in jou waarheid. Wees altyd getrou aan jouself,” het Retha met ’n laaste stukkie inspirerende wysheid gegroet.

Stuur jou nuusbrokkies vir ons   Telephone: 013 656 2490 WhatsApp: 060 866 8682 Email: wtbnews@mweb.co.za

Volg ons op sosiale media:   InstagramTwitter Witbank News App Facebook page Witbank News Breaking

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Back to top button