Martin sien elke dag as ’n kunswerk

Van kleins af het hy altyd prentjies geteken

“Wat is kuns?” Die oeroue vraag kan op miljoene maniere beantwoord word; elke kunstenaar het sy eie siening en antwoord.

Dan vra ons vir Martin Els dieselfde vraag, “Wat is kuns?”.

Die 60-jarige Martin se oë begin glinster, ’n speelse glimlag laat sy mondhoeke opwaarts trek en dan trek hy los, “Kuns is oral. Kuns is in jou bloed, in jou hande, dit weerspieël deur die vensters van jou siel. Elke dag het ’n ander storie, dus sal elke dag verskillende kleure op die doek los.”

Martin, ’n afgetrede menslike hulpbronne praktisyn is ’n kunstenaar wie se skilderye teen die mure in sy huis sy elke-dag-inspirasie vertel.

“Ek was nog altyd my ma se ander kind,” het hy humoristies vertel.

Van kleins af het hy altyd prentjies geteken en selfs jare later deur baie lang en vervelige vergaderings gesit en notaboeke vol geteken.

Net so voor sy aftrede het Martin ernstig begin teken en later formele opleiding deur die bekende kunstenaar Marié Stander ontvang.

Marié het jaarliks ’n kunsveiling en dis ’n gogga wat Martin raak gebyt het.

Hy beplan ’n kunsveiling op 29 Maart by Big 5 Gastehuis. Die opbrengs van dié veiling gaan aan ’n plaaslike welsynsorganisasie ‘We care’.

Verskeie kunstenaars gaan die aand hul kunswerke in die pragtige tuine by die gastehuis uitstal. Belangstellendes kan reeds om 17:30 die kunswerke kom besigtig.

Die veiling begin om 19:00.

Kaartjies is R200 en sluit peuselhappies in.

Vir meer inligting skakel Martin: 082 738 1850.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version