Kom kuier by Swartgoud-fees dié naweek

Die 24ste Swartgoudfees is om die draai en na baie harde werk is die fees reg om te voldoen aan almal se verwagtinge.

Die 24ste Swartgoudfees is om die draai en na baie harde werk is die fees reg om te voldoen aan almal se verwagtinge.

Met verskeie uitstallers wat items van mediese beddens tot mampoer, biltong tot baardolie te koop gaan aanbied, is die tafel gedek vir een van die beste Swartgoudfeeste in ‘n baie lang tyd.


Die gewilde Brendan Peyper is een van vele kunstenaars wat by vanjaar se Swartgoud-fees in Ga-Nala (Kriel) optree.

Met bykans 100 uitstallers, volgrote pretpark, gaskunstenaars wat insluit: Touch of Class, Brendan Peyper, Etha, Majozi, Kurt Darren en die Ga-Nala Youth Choir bied die fees, wat in Ga-Nala (Kriel) plaasvind op Vrydag 9 en Saterdag 10 Junie, iets vir elke smaak.

Die manne moet ook nie vergeet van die motors wat uitgestal gaan word nie en almal met unieke-, eksotiese-, klassieke- en sportmotors word uitgenooi om ‘n dag vol pret te kom geniet saam met die organiseerders.

Motoreienaars wat voertuie kom uitstal sal gratis toegang kry vir die bestuurders asook die passasier en gaan ook toegelaat word om ‘n regte ‘bootsale’ te kom ervaar waar alle motor verwante items te koop aangebied mag word.
Die Ludick-broers van eMalahleni gaan die fees komplimenteer met bykans 10 van Mpumalanga se beste ‘Dragster’ voertuie en die kleinspan sal kan kom hoor hoe hierdie motors klink en ook foto’s neem by die blitsige motors.


Kurt Darren tree by die Swartgoud-fees in Ga-Nala (Kriel) op.

‘n Mobiele Dyno-masjien gaan sorg dat 45 manne se voertuie getoets kan word op die terrein en ’n ‘nitro crew’ gaan in beheer wees van die klank-kompetisie.

Die polisie-orkes, asook die polisie se honde-eenheid gaan optredes lewer. Daar gaan ook demonstrasies deur die brandweer- en verkeersafdelings wees.

‘n Streng geen alkohol beleid gaan gehandhaaf word en voertuie sal deursoek word by die hek. Die biertuin sal wel sorg dat alle sportgeleenthede uitgesaai word en kampvure sal sorg dat almal warm bly, terwyl die dors geles kan word uit ‘n unieke bierbeker.

Organiseerders nooi almal uit om ‘n naweek vol pret en plesier saam met die borge: Eastvaal Ford Witbank, Volkswagen en Volkswagen Commercial, Autozone Kriel, Mad Doctor Trichardt, Westfall Secunda en Twizza Middelburg, te kom geniet. Twizza gaan ook van hul opbrengs tydens die fees aan gestremdes skenk.

Vir meer inligting, skakel Jacques: 082 966 9408 of gaan na die facbook-blad.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version