Wen Stephan Visagie se CD

Hierdie kompetisie sluit Dinsdag 22 November om 12:00 en die wenner sal telefonies gekontak word.

Adam Tas was die afgelope week kliphard in my kar gespeel. Nodeloos om te sê ek is ’n fanatiese Adam Tas aanhanger, veral nadat ek hom by Blue Room ontmoet het.

Sy nuutste album ‘Patatas en pyptabak’ is ’n album wat jou diepste wese aangryp.
Hierdie album wat uit 13 snitte bestaan, is sorgvuldig gevorm om vanuit ’n nuwe invalshoek stories te vertel van mense, liefde, vriendskap, verlies, lewensreise, eenheid en hoop.

Net so vir afwisseling gesels ons ook ’n bietjie oor Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels se Bosveldkitare.
Hierdie boereorkes spog met 23 CD’s en drie DVD’s. Vyf albums en ’n DVD het reeds goue status bereik en een album spog met platinumstatus.

Hierdie nuutste album oorrompel jou dadelik met die manne se Boeremusiek-aanslag. Jou voete tiekiedraai sommer vanself dansvloer toe.

Wouter van de Venter se album ‘Toe roep jy my’ is ’n versameling liedjies in uiteenlopende style soos ballades, bietjie reggae, country en blues en dit word ingekleur met kitaargedrewe ligte rockmusiek.
Wouter was een van die oorspronklike lede van die kitaarsensasie Ses snare.
Vir ons lesers gee ons die week Stephan Visagie se album, ‘Rondloper’ weg.

Stephan se gunstelingaanhaling oor musiek is: “Wanneer jy gelukkig is, geniet jy musiek. Wanneer jy hartseer is, verstaan jy die lirieke,” en sy eie musiek is ’n perfekte opsomming hiervan. Hierdie talentvolle kunstenaar het al verskeie liedjies op sy skrywerskerfstok, wat jou op reis vat deur ritmiese dansmusiek en nostalgiese hartsmusiek. Die eerste enkelsnit vanaf sy Rondloper album, getiteld ‘Sleutel van my hart’ is Stephan se gunsteling.

Daar is ook ’n bonussnit op die CD met die naam ‘Dromer’. Dit is geskryf vir Ribbons4Roses.

“Ek is trots om te sê dat ek omtrent so vier jaar gelede amptelik hulle eerste ambassadeur geword het. Dis ’n klein organisasie wat daarop fokus om plattelandse kinders met kanker en outisme te help,” sê hy.

Om ’n kans te staan om hierdie CD te wen epos jou naam en kontaknommer na zita@witbanknews.co.za.
Hierdie kompetisie sluit Dinsdag 22 November om 12:00 en die wenner sal telefonies gekontak word.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version