In elke bottel wyn is nog ’n vriendskap opgesluit

“My hart is en elke vat,” dis hoe kleinskaal wynprodusent Bertus Osbloed van Niekerk sy wyne beskryf.

Dié predikant wat vir baie opslae in die media gesorg het toe gaste tydens die bekendstelling van sy wyn deur ’n nakende vrou op die rug van ’n perd verwelkom is, het ’n baie informele wynproe hiér in die stad gehou (sonder die vrou of die perd).

Die wynproe-aand is deur Abie Smit gereël en op 25 Julie by Mystical Mansions Gastehuis gehou.
Bertus is daar van Somerset-Wes se wêreld afkomstig. Hy het in 2010 ‘n vat Chardonnay en ‘n vat Cabernet Sauvignon van Stellenbosch druiwe in sy motorhuis gemaak.  In 2011 het hy produksie verdubbel en ‘n vat Cinsaut van Stellenbosch-druiwe en ‘n vat Riesling van Elgin-druiwe bygevoeg.  Hierdie vier wyne is in 2012 bekendgestel as die ‘Horses of the Apocalypse’.

Elk van sy vier kultivars is op een van die vier ruiters van die Apokalips gegrond: die cinsaut op die rooie; cabernet die swarte; chardonnay die witte; en riesling die vale.
“Ek het nie elektrisiteit in my motorhuis waar ek my wyn maak nie. Natuurlike gisting én natuurlike verkoeling vind daar plaas. Ek soek die mees natuurlike maniere om wyn te maak. Dit stroop jou van tegnologie,” het Bertus sy wynmaak proses gedeel.

“As ek ooit op ’n eiland beland, mag daar asseblief ’n krat chardonnay saam met my uitspoel,” het hy sy gunsteling weggee.
Bertus het gesê sy wyne is anders, dit omhels jou, dis essensieel en die geure klim uit die glas uit en kom na jou toe.
Die gaste se opmerkings oor die wyne het elk hul eie storie vertel.

“Ek het vanaand my eie persoonlike siel in die Riesling geproe,” het me. Karin Coomer gesê. Die stelling het aan Bertus se hartsnare geraak. “Hierdie is ’n groot kompliment.”
Nog ’n gas het opgemerk dat engeltjies van nêrens af ingesluip het en op haar tong ’n tango gedoen het.

Marcia Keen het die aand ingekleur met haar meesleurende stem. Sy het soos altyd Jazz-nommertjies meesterlik vertolk en hier en daar ’n nuwe treffer bygevoeg.

Bertus het twee bottels wyne ten bate van Elkana Skool opgeveil. ’n Bottel Wonderbare Raadsman is vir R1 800 deur me. Roelien van der Merwe gekoop en die bekroonde digter Melt Myburg het R800 betaal vir ’n bottel  Rooi Perd Cinsaut.

Niks kom by heerlike kos, kwaliteit wyn en goeie geselskap nie, dié drieling het gesorg dat dié aand in ’n paar mooi herinneringe omskep is.
Die aand is afgesluit met ’n paar heildronke waarvan een op wonderlike vriende was

Sien al die fotos van die aand hier.

Exit mobile version