Spoedhobbels lok debat

Die kruise langs die pad trek skaars aandag soos motoriste haas om by hul bestemmings te kom.

Sommige mense sal dit nooit weer kan miskyk nie en sal altyd herinner word aan ’n leemte en hartseer nadat hul geliefdes op die pad gesterf het.

Na verskeie berigte in WITBANK NUUS oor ongelukke in OR Tambostraat, het ’n paar inwoners en padgebruikers met nuwe idees vorendag gekom om motoriste te forseer om by die spoedgrens van die pad te hou.

Me. Yolanda Minnaar het die idee geopper dat spoedhobbels dalk die beste oplossing is. Minnaar het self ’n paar jaar gelede  ’n kind aan die dood afgestaan in ’n noodlottige ongeluk in OR Tambostraat.

“Aangesien meeste padgebruikers die spoedgrens ver oorskry in OR Tambostraat veral, dink ek spoedhobbels die beste oplossing kan wees om mense te dwing om die spoedgrens van 60km/h na te kom… en verhoed om ander mense se lewens in gevaar te stel,” het sy onlangs kommentaar op Looklocal gelewer.

Nog kommentaar het gevolg van menige ander lesers wat met die idee saamgestem het. “Spoedhobbels gaan ons almal verontrief… maar is tans ‘n veiligheidsmaatreël wat in plek gesit kan word om nog noodlottige en onnodige ongelukke te verhoed,” het mnr. Andre de Bruto gemeen.

“Hoekom wil ons hoop en bid dat geen ander families deur die trauma moet gaan nie as ons darem iets daaromtrent kan doen? Spoedhobbels is ’n puik idee. Ek ry eerder stadiger en stop vir spoedhobbels as wat ek weet dat nog mense hulle kind, man, vrou, ma, pa of in my geval ’n beste vriendin kan verloor. Mense moenie eers wag vir iets verskrikliks om te gebeur voor iets gedoen word nie!” het nog ’n persoon bygelas.

“Wie nie gehoor gee aan padreëls nie, moet ‘voel’. Ek is vir die voorgestelde spoedhobbels om opgerig te word in OR Tambostraat. Ek ry daagliks verby Vosman Polisiestasie waar ‘n spoedhobbel dadelik opgerig is nadat ‘n jong kind doodgery is. Nadat die spoedhobbel opgerig is, was daar nog nie weer so noodlottige ongeluk gewees nie. Nou word padgebruikers verplig om stadiger te ry,” het mnr. Hendre Minnaar gesê.

“As die publiek net kan saamstaan en stem vir spoedhobbels kan daar minder ongelukke plaasvind op OR Tambo. Dit kan tot groot voordeel wees vir al die padgebruikers/voetgangers indien die stadsraad spoedhobbels kan oprig om ongelukke te voorkom en dan moet padgebruikers stadiger ry,” het Jakkie de Bruto gemeen.

Daar is wel enkele motoriste wat van mening is dat spoedhobbels nog ongelukke kan veroorsaak, maar die meerderheid inwoners is ten gunste van die idee.

*Die voorstel en kommentaar van inwoners is na die stadsraad gestuur vir kommentaar. Teen druktyd is geen kommentaar nog gelewer op die idee van spoedhobbels in OR Tambostraat nie.

(Lees meer en los ook jou kommentaar op facebook en www.witbanknews.co.za – volg die artikel: ‘Padongelukke neem toe’).

Exit mobile version