Charlaine is fotograaf van die jaar

Me. Charlaine Gerber het ’n unieke manier om herinneringe op kamera vas te vang.

Sy is op 13 Februarie tydens Witbank Fotografieklub se eindjaarfunksie aangewys as die algehele wenner van die jaar, ’n toekenning wat sy deur en deur verdien.

Charlaine is ook aangewys as die vyf-ster wenner vir 2013.

Die eindjaarfunksie is op ’n stylvolle manier aangebied en daar is lekker saamgekuier en oor die nuutste fotografie tegnologie gesels.

Mnr. Travis Vere-Russell, voorsitter van die fotografieklub het die toekennings oorhandig en oor die meriete sertifikate uitgegee.
Roelf Ackerman is aangewys as die een-ster wenner vir 2013, Adrie Stock die twee-ster wenner, Sandra Grobler die drie-ster wenner, Carminda Swanepoel die vier-ster wenner, Charlaine die vyf-ster wenner en ook algehele wenner en Henry Stock die Magister Bronze wenner.

Die volgende foto’s is aangewys as die wenfoto’s vir die jaar: beste aangepaste realiteit foto: ‘Smoking bananas’ deur Antoni Janse van Niewenhuizen en die beste kleur natuurfoto: ‘Geel spinnekoppie’ wat deur Charlaine geneem is.

Die beste monochrome natuurfoto: ‘Butterfly wonders’ is deur Carminda geneem, die beste ‘pictorial’ in monochrome ‘Blue mosque square’ is deur Charlaine geneem en die beste ‘pictorial’ in kleur is deur Henry vasgevang in sy foto: ‘Grass dunes’.
Sandra se foto: ‘Cosmos and splash’ het die beste visuele kuns in die kleur-afdeling gewen en Carminda se foto: ‘Paranormal supermoon’ is aangewys as die wenner in die beste visuele kuns in monochrome-afdeling.

In die landskap fotografie-afdeling het Henry met die louere weggestap in die kleur-afdeling met sy foto: ‘Dead tree valley’ en Charlaine het die monochrome-afdeling gewen met haar foto: ‘Sandpatrone’.

Carminda het ook die afdeling vir die beste portret inkleur met haar foto: ‘Beauty hidden wall’ gewen.

Back to top button