HTS spog met SA kampioen

Gedurende die SA-skole kampioenskappe in Rustenburg het agt atlete van die Hoër Tegniese Skool deelgeneem.

Pieter Künz (o.15) het ‘n vierde plek in die 100m behaal en verower ‘n silwer medalje in die 200m. Pieter sluit verder hierdie atletiek seisoen op ‘n hoogtepunt af deur die 400m in die vinnigste tyd van 49.37 sekondes te wen (SA-kampioen).

Shania-Lee Swart (o.16) moes teen 17-jarige dogters kompeteer en het ‘n vierde plek in spiesgooi op die skole kampioenskappe behaal. Sy eindig ook onder die top agt atlete in die land met diskus en gewigstoot. Tydens die ASA-kompetisie behaal sy ‘n vyfde posisie.
Karabo Nkambule (o.19) het aan die 110m hekkies deelgeneem, dring deur na die finaal en eindig vierde met sy persoonlike beste tyd vir die seisoen.

Lezandi Pretorius (o.16) het ook haar hoogste (1.67m) in hoogspring behaal.
HTS se hokkie meisies het ‘n besige Paasvakansie agter die rug met verskeie klinieke wat hulle bygewoon het. Die o.14A meisies het as groepwenners uitgetree.

Ons o.15A hokkiespan het deelgeneem aan die Tuks o.16 toernooi by die Universiteit van Pretoria en is ook as toernooi wenners aangewys. Hulle het altesaam 23 doele in agt wedstryde aangeteken. HTS se spannetjie het skoonskip gemaak teen Affies, Uplands, Ermelo, HTS Middelburg en ander skole. Die span wil graag hulle borge bedank wat dit alles vir hulle moontlik gemaak het.
HTS se o.16A en eerste spanne het aan die DF Malan nasionale hokkiekursus in Kaapstad deelgeneem en altesaam sewe wedstryde gespeel waarvan albei spanne vier elk gewen het.

HTS is voorwaar trots op al die atlete wat aan die Skole kampioenskappe, ASA-kampioenskappe en hokkie toernooie deelgeneem het.

Exit mobile version