HGH-seunshokkie seëvier

eMalahleni se grootste twee skole het teen mekaar te staan gekom op die hokkieveld.

Woensdag 4 Junie was D-dag vir die seuns hokkiespanne van Hoërskool Generaal Hertzog en die Hoër Tegniese Skool Witbank.

Die eerstespan seuns van HGH het van die begin af die wedstryd gedomineer met groter stokvaardigheid en die doele het vir ‘n derde van die eerste helfte die twee spanne ontwyk. ‘n Hoekie is toegeken ten gunste van HGH.

Simeon Kruger het met ‘n “dragflick” geantwoord en die bal in die doelwagter vasgeslaan waarna die bal teruggebons het en Anthony Ruschenbaum hom in die kas se hoek vasgeslaan het. Die tweede doel het van Harrison Clarke se stok afgekom.

HGH het die wedstryd gewen met 2-0. Me. Anine Olivier, die span se hoofafrigter, was na die wedstryd baie tevrede en het van haar span gesê: “Beste span ooit! Super, super trots! Hulle het ‘n goeie gesindheid, beste maniere, beste dissipline en uithouvermoë wat skrik vir niks.”

Die o.16 seuns het maklik drie doele aangeteken. Die eerste doel is binne die eerste vyf minute van die eerste helfte aangeteken deur Gerhardus Fourie nadat hy ’n gaping gesien het toe die HTS doelwagter ver uit sy doelhok beweeg het.

Die ander twee doele was die gevolg van strafhoeke en is deur Reinhardt Swanepoel en Gerhardus Fourie aangeteken. Die eindtelling was 3-0 ten gunste van HGH. Me.Susan Badenhorst, die o.16 seuns se hoofafrigter, het agterna gesê sy is baie tevrede met hoe die seuns gespeel het en hoe hulle gevorder het in die liga.

Die wedstryde teen HTS het in ‘n goeie gees geskied met goeie hokkie, bekwame skeidsregters en ondersteunende personeel en leerders.

Exit mobile version