Local sportSport

Brendon wys sy ware kleure

Brendon het deur harde werk en gereelde oefening gewys dat hy nog lank nie die einde van die leer bereik het nie en word in 2016 beloon toe hy in die Protea-span opgeneem word

Karate het Brendon Visagie (14) baie geleer in sy lewe, waarvan harde werk en dankbaarheid een van die grootste lesse is vandat hy karate begin doen het op die ouderdom van sewe jaar.

Dié kranige karateka het van jongs af al begin sukses proe, toe hy reeds in 2014 sy provinsiale klere verwerf het.

Net die daaropvolgende jaar word hy gekies as die jongste student in Mpumalanga om dubbel goud te ontvang in die kata en kumite afdelings by die Karate South Africa (KSA) Nasionale Kampioenskappe.

Brendon het deur harde werk en gereelde oefening gewys dat hy nog lank nie die einde van die leer bereik het nie en word in 2016 beloon toe hy in die Protea-span opgeneem word.

Hy neem internasionaal in Zimbabwe deel, waar hy brons wen in die kumite-afdeling.

Maar steeds is dit nie genoeg vir die jonge Brendon nie en in 2017 klim hy op die vliegtuig na Kroasië om deel te neem aan die World Karate Federation (WKF) World Youth Camp.

Hiér eindig hy in die negende plek teen baie strawwe kompetisie vanoor die hele wêreld. Hy kry ook hiertydens die geleentheid om saam top karatekas in die wêreld te oefen.

In 2018 haal Brandon vir die tweede keer die Protea-span, maar kon ongelukkig nie deelneem in Kroasië nie.

Brandon het alle reg om te spog; hy het sedert hy met karate begin het, 77 goue medaljes, 26 silwer en 22 brons medaljes bymekaargemaak.

Om die kersie op die koek te sit het hy vroeër die maand sy junior swart belt ontvang.

Sy ondersteuning kom uit alle rigtings en sy ma, Samantha Visagie ondersteun hom ook deur saam met haar seun aan die sport deel te neem.

Sy self spog met ’n derde kyu (klas) bruin belt.

Brendon sê sy advies is om nooit op te gee nie, al raak dit hόé moeilik, harde werk word beloon en word gesien elke dag in alles wat jy insit.

“Karate het my geleer om soms terug te staan en te verloor, al weet jy dat jy die wenner is en daardeur vir myself op te staan en deur te druk, maak nie saak wat die situasie is nie. Al wat ek doen is om die Here te dank vir my krag om deur te druk en my ouers wat my ondersteun en in al my drome glo.’’

As Brandon nie in sy gi (karatepak) aan die oefen is onder die wakende oog van sy leermeesters, sensei Johnny en Diane Nel van Sonkei Karate Dojo nie, is hy ’n baie besige leerder by Curro Bankenveld, waar hy ook die hoofseun was, waar hy ook op talle ander gebiede presteer.

Dit is duidelik dat dié nederige sportman nog groot hoogtes gaan bereik, want opgee is nie in sy woordeskat nie.

Back to top button