Local sportSport

Tommy poleer sy haelgeweer vir die grote

Tommy het 47ste gekom in die ope-klas in die kampioenskap wat vanaf 13 tot 19 September in Italië plaasgevind het.

Die internasionale haelgeweerskiet wêreldkampioenskap is agter die rug en vir die plaaslike skut, Tommy Glover was dit ’n ontploffing van ondervinding en kultuur skokke.

Tommy het 47ste gekom in die ope-klas in die kampioenskap wat vanaf 13 tot 19 September in Italië plaasgevind het.

“As ons gesels praat ons van 78.5% van die wenpunte, dis maar net ’n manier om die punte uit te druk om te sien hoe ver jy van die wenner af is,” het hy gesê.

Volgens Tommy was die wêreldkampioenskap baie goed georganiseerd.

“Die Italianers het baie goed voorberei en was reg vir enige iets. Die organisasie was puik.”

Daar was 30 vlakke in een dag geskiet. Tommy het gesê sodra jou konsentrasie breek maak jy taktiese foute wat jou kosbare punte kos.

zg641rs
Tommy Glover pryk in sy Protea-klere tydens die internasionale haelgeweerskiet wêreldkampioenskap.

“Jy moet geestelik en fisies so fyn korrel. Op die tweede dag het ek nie goed genoeg voorberei nie en my ammunisie het min geword. Op ’n stadium het ek op hoërgraad drooggemaak en punte verloor,” het Tommy ’n verkorte weergawe gegee van hoe die kompetisie verloop het.

Tommy is glad nie beïndruk met die Italianers nie, maar hy het die land se argitektuur en ingenieurswese waardeer.

“Rome se dreineringstelsel is iets om te beleef. Die stad is op ’n moeras gebou en die planne waarmee hulle vorendag gekom het om die probleem die hoof te sien, is iets wat ek nie kan beskryf nie. Die ingenieurswese is moontlik die heel beste in die wêreld,” het hy vertel.

Dienslewering aan die ander kant was iets wat Tommy grensloos geïrriteer het.

“Hulle mees gebruikte gesegde is ‘This is not possible’. So bestel ek ’n glas Coke met ys in. Ek vra vir ’n bierglas en met die knik van die kop vertel daardie kroegman vir my ‘This is not possible’. Hulle gooi hulle Coke in ’n spesifieke glas en basta met die res, dis die reël en dis hoe hulle dit doen.”

Tommy is reeds besig om sy haelgeweer te poets en poleer vir die volgende groot kompetisie.

“Die 2018 wêreldkampioenskap vind in Frankryk plaas en as ek span kry, gaan ek dié keer met ’n ander plan.

Tommy is tans die nommer een in Suid-Afrika met die haelgeweer in die ope-klas.
Tommy het ’n video saamgestel waarin hy dankie sê aan almal wat dit moontlik gemaak het dat hy in Italië kon gaan deelneem.

Gaan kyk gerus op www.witbanknews.co.za en volg die skakel na die video. Daar is ook ’n video van Tommy in aksie tydens die wêreldkampioenskap.

You can read the full story on our App. Download it here.
Back to top button