Tommy korrel vir wêreldkampioenskap

Tommy is deel van die Protea-span wat Suid-Afrika in die internasionale haelgeweerskiet wêreldkampioenskap vanaf 13 tot 19 September verteenwoordig.

Tommy Glover is in Italië vir die internasionale haelgeweerskiet wêreldkampioenskap en vir die volgende drie weke gaan hy korrel en skiet vir ’n vale.

Tommy is deel van die Protea-span wat Suid-Afrika in die internasionale haelgeweerskiet wêreldkampioenskap vanaf 13 tot 19 September verteenwoordig.
Hy het reeds Maandag 7 September vertrek. Vir die volgende twee weke is Agna, die skilderagtige dorpie in die Noorde van Italië, sy tuiste. Hy gaan die meeste van sy tyd by die skiet kompleks ‘Le Tre Piume’, sowat 60 km van Venesië af spandeer.

“My haelgeweer is uitmekaar, nou begin die groot skoonmaak voor ek begin skiet,” het hy Vrydag 4 September tydens ’n onderhoud gesê.

Om die nodige permitte te kry om sy haelgeweer saam te neem op die vliegtuig het hom omtrent gryshare gegee. Hy moes vir ’n tydelike uitvoer- en invoerpermit aansoek doen.

“Dis makliker om ’n spies of selfs ’n krieketkolf saam met jou te neem. Hulle wou niks weet van my haelgeweer nie,” het hy gesê.

Toe moes Tommy ook besluit of hy net een stel klere saamvat of nie, want die lugredery laat net 40kg toe en sy haelgeweer met al die ander toerusting by weeg amper 40kg. Elke kilogram oorgewig sou hom 400 dollar ekstra uit die sak jaag.

“Na lang briewe baie gesukkel het hulle uiteindelik gesê omdat dit sport toerusting is, ‘skenk’ hulle 10kg ekstra vir my. Daardie 10kg beteken darem vier broeke en vier hemde en as ek gelukkig is sokkies ook,” het hy gelag.

Dit is die tweede keer dat dié kompetisie gehou word en Tommy het die groen en goud in die eerste kompetisie gedra. Dit was in Debrecen Hongarye gehou.

Hy het in die standaardklas geskiet en 40ste uit 118 skuts geëindig.
Vanjaar se kompetisie word oor ses dae geskiet en daar word 30 vlakke in een dag geskiet. Die reëls bepaal die minimum hoeveelheid rondtes vir die vlak van kompetisie, en vir die vlak is dit 250. Maar die organiseerders het aangedui dit gaan so 400 wees vir die kompetisie.

“Ek skiet ֹn haelgeweer vinnig moeg. Voor ek en sy mekaar regtig mooi leer ‘ken’ moet ek ’n ander een aanskaf en dit kan my maklik tot R22 000 vir een haelgeweer kos, dan is sy standaard,” het Tommy gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version