Local sportSport

Shumba Ferro’s verloor naelbyt stryd

Die se Puma Super Liga trofee gaan vanjaar nie hier in eMalahleni pryk nie.

Shumba Ferros moes Saterdag 25 Julie teen Witrivier die aftog blaas in vanjaar se Puma Super Liga met ’n eindtelling van 13-15.
Dit was die eerste verloor vir eMalahleni se spogspan op sy tuisveld sedert 2012 toe hulle teen die einste Witrivier verloor het. Die wedstryd was hard en genadeloos en met halftyd telling op 10-elk was die tafel gedek vir ’n riller van ’n tweede helfte.

Deon Scholtz met Bennie Mashabane en Ruben Opperman wat kom verdedig.
Deon Scholtz met Bennie Mashabane en Ruben Opperman wat kom verdedig.

Ferro’s het vinnig voorgeloop na ’n strafskop deur Jannie van der Merwe maar in die laaste minute het Witrivier meedoënloos aangeval en Doppies le Roux het die finale spyker in Ferro’s se kis geslaan met die besoekers se wendrie.
Die skeidsregter kan met reg vir die drie ’n paar vrae antwoord na hy in Ferro’s se verdedigingslyn gestaan het en Ferro’s se Ruben Opperman amper bo-oor hom moes hardloop om by die aanvallers uit te kom, sonder sukses.
Ferro’s moes ook telkemale kyk hoe hul eie strafskop voordeel verval en Witrivier is toegelaat om met elke skrum onwettig in en op te skrum.

Doppies Le Roux beur vorentoe met die bal in sy hand terwyl Shumba Ferro’s se Tommie Collen en Jovan Botha vir ’n vale verdedig. (Foto: Zita Goldswain).
Doppies Le Roux beur vorentoe met die bal in sy hand terwyl Shumba Ferro’s se Tommie Collen en Jovan Botha vir ’n vale verdedig. (Foto: Zita Goldswain).

Vat egter niks weg van die Laeveld manne nie, hulle het gekom om te wen en het takties uitstekend gespeel nieteenstaande die jong Riaan Booysen se vertolking van die reëls tot nadeel van Ferro’s.
Jannie het al Ferro’s se punte aangeteken en dit is gedoen met ’n drie, ’n doelskop en twee strafskoppe. Witrivier het geantwoord met twee drieë, ’n doelskop en ’n strafskop.
Met die reëls vir kwalifisering in die Cell C Gemeenskapsbeker wat heel moontlik in die volgende twee weke gaan verander is dit egter nie alles verlore vir Ferro’s nie en kan hulle steeds in 2016 kwalifiseer vir die toernooi sou die Suid-Afrikaanse Rugbyunie die besluit so neem.

Dylan Pieterse lê oop doellyn toe. (Foto: Zita Goldswain).
Dylan Pieterse lê oop doellyn toe. (Foto: Zita Goldswain).

Die Spur/Bolt en Nut speler van die wedstryd was WF Kotze en die agterspeler van die wedstryd was Ruben Opperman.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus

Besoek ook ons Facebook of Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C600F om jou nuusflitse gratis te ontvang.

U persoonlike informasie sal aan geen derde partye gedeel word nie.

Back to top button