Tommy oorgehaal vir Italië

Tommy is gekies vir die Protea-span wat Suid-Afrika in die internasionale haelgeweerskiet wêreldkampioenskap gaan verteenwoordig.

Italië is stewig in Tommy Glover se visier genestel.
Tommy is gekies vir die Protea-span wat Suid-Afrika in die internasionale haelgeweerskiet wêreldkampioenskap gaan verteenwoordig.
Die kompetisie word tussen 13 en 19 September gehou in Agna Italië op die skiet kompleks ‘Le Tre Piume’. Dis so 60 km van Venesië.
Hy neem in die opeklas deel omdat hy met ‘n geweer skiet wat met ‘n magasyn gelaai kan word en ‘n paar ander modifikasies het.
Tommy (42) is al ’n ou voorlaaier in die kompetisie.

Dit is die tweede keer dat dié kompetisie gehou word en Tommy het ons land in die eerste kompetisie al verteenwoordig. Dit was in Debrecen Hongarye gehou.
“Ek was toe gekies vir die standaardklas-span. Dit was ’n ongelooflike ervaring om deel te neem teen internasionale skuts,” het Tommy vertel
Hy het 40ste geëindig uit 118 skuts.

Verlede jaar was net so ’n groot jaar vir die passievolle skut. Hy het toe sy eerste presidensiële medalje gewen by die tweede seleksie kompetisie in Kraaifontein.
Net skuts wat ’n eerste plek behaal by ’n vlak drie en hoër kompetisie kry presidensiële medaljes.
Terug by die voorbereiding vir die wêreldkampioenskap het Tommy meer vertel oor wat op hom wag.

“Daar behoort sowat 600 skuts in die kompetisie deel te neem in vier verskillende kategorieë, ope, gewysigde, standaard en standaard ‘manual’.
Die kompetisie word oor ses dae geskiet, waarvan jy gewoonlik een dag af kry. So jy skiet 30 vlakke in vyf dae. Die reëls bepaal die minimum hoeveelheid rondtes vir die vlak van kompetisie, en vir die vlak is dit 250. Maar die organiseerders het aangedui dit gaan so 400 wees vir die kompetisie,” het hy opgewonde gesê.

Maar moenie dink dis net van mik, trek die sneller en skiet na ’n teiken toe nie. Hierdie sportsoort is baie meer ingewikkeld.
Die tipe skiet sport bestaan uit verskillende bane wat opgestel word om die drie fasette van die sport te toets, naamlik akkuraatheid, krag en spoed. Akkuraatheid is vanselfsprekend die raakskiet van die teikens. Krag lê in die gebruik van vol krag wapens en ammunisie en die spoed in hoe vinnig jy die baan kan klaar maak.
Die sport het reëls soos enige ander sport, maar omdat die skuts met vuurwapens en lewendige ammunisie deelneem is daar baie klem op veiligheid, nie net van die deelnemers nie maar ook van die toeskouers en die breë publiek. Die breek van ‘n veiligheidsreël beteken diskwalifikasie van die kompetisie.

“Die bane word so opgestel dat jy uit verskillende posisies moet skiet, daar is ook beweging van een skietpunt na ’n ander betrokke, en al dié teen tyd. Ons skiet in die haelgeweer-afdeling met donshael, bokhael en ’n soliede haelgeweer patroon. Verskillende soorte teikens word gebruik met die verskillende soorte ammunisie. Ons gebruik gewoonlik staalplate met donshael, jy skiet die plaat om vir punte, dit is ook goedkoper want jy hoef nie die plaat te vervang nie die hael beskadig nie die plaat nie. Vir die bokhael en soliede haelgeweerpatroon gebruik ons gewoonlik papier teikens wat goedgekeur is deur Internasionale Praktiese Skiet Konfederasie,” het Tommy gesê.
Sy liefde vir die sport is jare terug al gebore.

“My oupa Sonny en my pa Wimpie Glover het die liefde vir skiet gekweek. My oupa het die skietspan afgerig by die Hoër Tegniese Skool. Hy het my ook op die plaas toegelaat om met sy .22 geweer te skiet. My pa het dit verder gevat deur my te leer jag en duiwe skiet met die haelgeweer”.
Tommy het van sewejarige ouderdom af geskiet en het in 1999 by Witbank Practical Shooting Club aangesluit. Hy het eers in 2000 begin kompetisie skiet toe hy vir die IDPA (International Defensive Pistol Assosiation) begin skiet het.

Hy ry deur Pretoria toe om by die klub waaraan hy behoort, Magnum United, te oefen omdat hy aan veelvuldige dissiplines deelneem.
Dié boorling van eMalahleni skiet vir ontspanning die maandelikse kompetisies van Zebra tak by Dwanzani op Balmoral, die plaaslike SA Jagters en Wildbewarings Vereeniging-tak. En as hy kans kry gaan jag hy graag.

Tommy is gelaai en oorgehaal om dié wêreldkampioenskap ’n kolskoot te gee.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Witbank Nuus se webwerf:
Witbank Nuus

Besoek ook ons Facebook en Twitter blaaie.
Is jy passievol oor jou gemeenskap? Teken in op ons splinternuwe nuusflitse. Stuur ‘n boodskap op WhatsApp met jou ‘Naam en Van’ na 082 955 7201 of teken aan op BBM 7F6C00F om jou nuusflitse gratis te ontvang.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version