Local sportSport

Volpunte vir Ferro’s

Ferro’s rugbyklub het die afgelope naweek beide ligawedstryde teen die buurklub, Middelburg gewen.

Met die koel weer was die tafel Saterdag 18 April vroeg gedek vir ’n uitstalling van Puma klubrugby op sy beste.
Die eerste span, Shumba Ferro’s en die tweede span, Lorent Ferro’s, het in die Hoëveldliga wedstryde geseëvier.
Shumba Ferro’s het Middelburg met twee punte gewen, die telling was 8-6.
Lorent Ferro’s, het Middelburg met 35-16 ’n goeie loesing gegee.

Hulle het korte mette gemaak van ’n sterk Middelburg-span wat slegs eenkeer in die eerste helfte die doellyn oorsteek, terwyl die jong Ferro’s manne vyf keer gaan druk het. Die span wat wemel van o.21 spelers het met hul spoed en samespel die swaar Middelburg span by tye oorhoops gehad op verdediging.
Armand Botha, Ruben Opperman, Damian Bezuidenhout, Christo Swart en Marco Mare het agter die doellyn gaan kuier. Armand het ook met vyf doelskoppe geslaag vir ’n persoonlike totaal van 15 punte.

Die eerstespan se wedstryd het aan alle verwagtinge voldoen wat betref ongenaakbare verdediging en deurgaans kwaliteit spel gelewer.
Dit was die besoekers wat eerste bloed geruik het na ’n strafskop wat Neil van Rensburg deur die pale geklits het.
Minute later het hy vanaf die halflyn met nog ’n strafskop geslaag en Middelburg het met 6-0 die voortou geneem.
Ferro’s het in die afwesigheid van hul skopskoen, Jannie van der Merwe, skynbaar besluit om eerder drieë te probeer druk vanaf vele strafskoppe binne trefafstand. Maar, hulle is telkens meters van die doellyn gestuit. Daar sal dringend na die tendens gekyk moet word aangesien besluite soos die, die span nog duur te staan kan kom.

Ruan du Plooy van Shumba Ferro’s het ondersteuning van Junior Laas.
Ruan du Plooy van Shumba Ferro’s het ondersteuning van Junior Laas.

Net voor halftyd het Ruan du Plooy, soos verlede seisoen ook teen Middelburg, die bal in sy eie halfgebied gekry en met ’n paar verdedigers wat in die lug gryp of afgestamp is, het hy in die hoekie oorgegaan. Die doelskop is van die kantlyn af misgeskop en die spanne het gaan water drink met Middelburg wat 6-5 voor was.
Ferro’s se grootste vyand was hulself in dié helfte. Met ’n oop doellyn voor hulle het swak hanteerwerk tot gevolg gehad dat hulle minstens drie drieë weggegooi het.
Die tweede helfte was uit Ferro’s se oogpunt ook teleurstellend. Met goeie eerste fase besit kon hulle nie hul normale ondersteunende spel laat afkom nie.
Vele lopies van Johan van der Walt, Gerhard Munro, Louis Roos en Izan Green het gefaal omdat ondersteunende spelers net te ver was om die bal verder te neem. Die talentvolle en ervare agterlyn van Ferro’s sal terugkyk na die wedstryd en hulself kasty oor die vele geleenthede wat verbrou is.

Die span kon ook nie hul gewone gedissiplineerde struktuur rugby speel nie met net te veel spelers wat dinge op hul eie wou doen. Vat niks weg van die Middelburg span wat eMalahlni toe gereis het om te kom wen nie.
Veral by die afbreekpunte was Ferro’s telkens van hul eie bal af gedryf deur die swaar pak van Middelburg. Die besoekers het self aan wit lyn koors gelei en was daar ook spelers wat die wedstryd op sy eie wou wen.
Feitlik die volle tweede helfte is tussen die twee kwartlyne gespeel met geen kans op drieë nie.
Sowat drie minute voor die eindfluitjie het Ferro’s ’n strafskop gekry na herhaalde oortredings deur die agtste man van Middelburg by die afbreekpunte reg voor Middelburg se pale. Gerhard het die strafskop omskep in die wen punte.
Die wedstryd is feitlik sonder voorval gespeel met slegs ’n enkele gevaarlike duikslag van Waldo Nelson, haker van Middelburg, op sy oud spanmaat Tommie Collen. Hiervoor het Waldo ’n geelkaart gekry.

Christiaan Els van Shumba Ferro’s hou die bal styf vas op Saterdag 18 April toe hulle teen Middelburg gespeel het.
Christiaan Els van Shumba Ferro’s hou die bal styf vas op Saterdag 18 April toe hulle teen Middelburg gespeel het.

In dié twee wedstryde van die liga het die eerste span 28 punte opgestapel en 16 punte teen hulle afgestaan. In lig daarvan kan dit gesê word dat Shumba Ferro’s die liga kán wen as die klein jakkalsies net uitgesorteer kan word.
Stefan Breytenbach, wat aangestel is om die derby stryd te hanteer, het dit ongelooflik goed gedoen en beide spanne was vol lof vir sy professionele hantering van die wedstryd.

Die Bolt&Nut/Spur eerstespan speler van die wedstryd was Gerhard Munro met Werno Smit wat die louere onder die voorspelers verdien het.
Die Bolt & Nut/Spur tweedespan speler van die wedstryd was Ruben Opperman en die voorspeler van die wedstryd Damian Bezuidenhout.
Ferro’s speel nou eers weer op 9 Mei teen Loskop op Groblersdal.
“Die volgende twee weke se voorbereiding gaan baie belangrik wees. Ons gaan sorg dat die eerstespan weer sy ritme terugkry en binne sy potensiaal speel,” het Willie Oosthuizen, Ferro’s se afrigter gesê.

Back to top button