HomesLocal sportSport

Ferro’s kry swaar

Kompetisie in die Cell C Gemeenskapsbeker-reeks is nou op kookpunt.

Dis net die Rustenburg Impalas en Pretoria Polisie wat verseker is van posisies in die finale rondtes van dié gewilde gemeenskapsbeker-reeks wat by Sun City gespeel gaan word. Die ses oorblywende posisies in die uitspeel rondtes is nog daar om gepluk te word.
Ongelukkig gaan Shumba Ferro’s nie een van die spanne wees wat vir die top agt posisies veg nie. Hulle het al drie die wedstryde in die vorige rondtes verloor.

Die komende naweek speel hulle tuis in die vierde rondte van die reeks teen Welkom Rovers.
Durban se humiditeit het die span Saterdag 14 Maart gepootjie.
Die wedstryd wat om 13:30 op Kingspark gespeel is, is in ’n bloedige 37grade gespeel, die ideale weer waarin die Durban Collegians kon baljaar.
Die Hoëveld manne was nie gereed vir die tipe hitte nie. Hulle is weerloos gelaat en die Durbaniete het in die tweede helfte die pas verhoog en Ferro’s van hul voete afgespeel. Die eindtelling was 16-39 nadat Ferro’s in die eerste helfte met 16-15 voorgeloop het.
Jannie van der Merwe het met die skopskoen ingelê en met drie strafskoppe en ’n doelskop geslaag. Tommie Collen het Ferro’s se enigste drie van die wedstryd gedruk.

Met Gerhard Munro, WF Kotze, Pule Sibiya en Willie van der Merwe wat moes onttrek voor Saterdag se wedstryd was die afrigters genoodsaak om diep te delf om ’n kompeterende span Durban toe te stuur.
Ferro’s het veral met hul lynstane, asook by die afskoppe beïndruk met die wyse waarop hul gekompeteer het.
Met die bal wat vanweë die humiditeit later amper onhanteerbaar geword het, het daar minstens drie doele verlore gegaan na Ferro’s afskoppe teruggewen en die balle net nie in die hande wou bly nie.

Al het hulle die wedstryd nie gewen nie, het die manne van Ferro’s steeds skouspel-rugby gespeel. Christiaan Els is aangewys as die speler van die wedstryd en Dylan Pieterse as voorspeler van die wedstryd.
Saterdag 21 Maart se wedstryd op die Puma Stadion is van kardinale belang vir die gradering in die 2016 seisoen.
Hoe beter die span vaar hoe gunstiger verloop die loting vir die onderskeie groepe. Ferro’s is op vol sterkte die naweek en ’n vol program word vir die dag beplan.
“Ondersteuners kan uitsien na ’n ‘Oompie-wedstryd’ wanneer Ferro’s se ou-manne teen Middelburg se ou-manne speel,” het Willie Oosthuizen, Ferro’s se afrigter gesê.

’n Middelburg 15-tal meet ook kragte teen Lorent Ferro’s tweede span.
Wedstryde sal reeds om 12.00 begin en daar sal oorgenoeg te eet en drink aangebied word deur die dag. Daar sal ook deur die borge van die Cell C Gemeenskapsbeker deur die dag weggeepryse en lotings gedoen word.

Back to top button