Local sportSport

Ferro’s dié naweek op Kings Park

’n Drie met die horlosie se wysers wat so op die 80 minute ronddans, het vir Shumba Ferro’s hul wedstryd die naweek gekos.

Die drie deur Despatch, Saterdag 7 Maart het die telbord in hul guns laat swaai met drie punte. Die eindtelling was 29-26. Teen halftyd het die prentjie ietwat anders gelyk met Ferro’s wat op daardie stadium 12-10 voor was.
Toe  Christiaan Els in die eerste minuut onder die pale oor is vir Ferro’s se eerste drie moes daar sekerlik ’n paar gebede opgegaan het om te vra dat dit die verloop van die wedstryd sou wees.

Moeder Natuur het egter ander planne gemaak en ’n Hoëveldse stortbui net na die tweede helfte het bietjie ingemeng met die spel. Dit het die sig belemmer en balhantering baie moeilik gemaak. Beide die spanne het vir die laaste 30 minute baie versigtige rugby gespeel om die bal in spel te hou.
Steeds kon Ferro’s ’n doel aanteken vanuit hul eie gebied na Pule Sibiya seker maklik 50 meter genael het en Henzon Ngozo uiteindelik onder die pale oor is vir die bonus punt drie.

Dylan Pieterse hardloop doellyn toe, Gerhard Munro hardloop langs hom. (Foto: Trevor Aingworth).
Dylan Pieterse hardloop doellyn toe, Gerhard Munro hardloop langs hom. (Foto: Trevor Aingworth).

Ferro’s het deur die wedstryd sterk geskrum teen ’n baie ervare en swaar pak van Despatch en het ook hul lynstane beheer. Hulle het selfs drie van die Oos-Kapenaars se balle in die lynstane afgeneem.
Speler van die Wedstryd Gerhard Munro, wat vanjaar sy rugby by Ferro’s speel, het soos ’n generaal sy agterlyn beheer en veral met sy lae en steekskoppies Despatch se verdediging behoorlik getoets. Ferro’s het met mening aangeval en die baie ervare agterlyn het gesorg vir watertand lopies en die hantering in die nat weer was uitstekend.
Met Izan Green op die oorlogspad kon Ferro’s se losvoorspelers die afbreekpunte met mening aanval en sou ’n minder ervare span nie die druk kom weerstaan nie.

Alle eer aan die ‘ou manne’ van Despatch, hulle het alles geabsorbeer wat Ferro’s hul kant toe gegooi het en op die uiteinde met volgehoue druk die wen punte met minute oor aangeteken, weliswaar van ’n bal wat vorentoe verloor is en nie deur die lynregter opgemerk is nie.
“Was dit nie vir die nat weer nie kon daar definitief ’n ander uitslag in die wedstryd gewees het,” het die afrigter, Willie Oosthuizen gesê.
Die wedstryd was van so ’n hoë gehalte dat toeskouers selfs in die erge reën storm bly sit het tot die laaste minuut.

Werno Smit hou sy oog op die opposisie net voor hy ’n drie druk. (Foto: Trevor Aingworth).
Werno Smit hou sy oog op die opposisie net voor hy ’n drie druk. (Foto: Trevor Aingworth).

Die span sien uit na die wedstryd teen Durban Collegians eerskomende naweek in Durban. Alhoewel die span ’n paar veranderinge gaan toon gaan hulle daarop uit om hulself op Kings Park te laat geld.

Back to top button