Local sportSport

Pule nou ’n Puma

Wanneer Pule Sibiya ooplê doellyn toe sien jy net hakskene.

Die jong sportster wat dikwels in WITBANK NUUS gepryk het vir verskeie sport-toekennings laat die stad se bors swel met trots nadat hy in die Steval Puma rugbyspan opgeneem is om vir dié provinsiale span in die Vodacombeker uit te draf.

Dié oud-leerder van WH de Klerkskool het naam gemaak as ’n spoedvraat.
Hy hardloop die 100m in 10,5sek, die 400m in 48,99 en spring 7,10m ver. In 2012 het hy vir die SA Atletiek-kampioenskappe gekwalifiseer. Dit is ook die jaar toe hy sy buiging in die Pumas o.19 span gemaak het.
Maar rugby het gewen toe hy moes besluit of hy atletiek wil doen of rugby wil gaan speel.

Pule was nog op skool toe hy in 2012 vir die eerste keer vir Ferro’s uitgedraf het. Hy het van die begin af elke jaar die trofee gewen vir die speler wat die meeste drieë gedruk het.
“Pule was nooit ’n kwota speler nie. Hy het talent en hope daarvan. In die nommer 11 trui is hy die beste wat ek nog gesien het,” het sy oud-afrigter van Shumba Ferro’s, Willie Oosthuizen gesê.

Willie het die staaltjie gedeel van die slag toe Ferro’s teen Malelane kragte gemeet het. Willie het vertel dat Jaco Marnovick wat die skaal toe al op 130kg laat bewe het, vir Malelane vasskopstut gespeel het. Hy het die bal in die hande gekry en was op volle spoed op pad doellyn toe, maar hy het nie rekening gehou met Ferro’s se eie dodelike verdediger nie. Pule wat toe maar net oor die 80kg geweeg het, het Jaco reg van voor geduik en in sy spore gestuit.
“Jaco het vir nog so drie minute plat op sy agterent gesit, verbaas rondgekyk en sy kop geskud in ongeloof toe hy sien dit was Pule wat hom geduik het,” het Willie vertel.

Pule is alles wat jy van ’n rugbyspeler verwag, was Willie se mening. Hy het gesê Pule is als in een.
“Pule soek heeltyd werk op die veld, hy staan nie een oomblik stil nie en hy is blitsvinnig,” het Willie hom beskryf.
Willie het gesê Pule is nasionale sewes materiaal.

Op SA Rugby se spelers profiel wys dit dat die jong speler die afgelope drie jaar gegroei het in die sport. In 2012 was hy deel van die o.19 Puma span in die Absa o.19 kompetisie, die daaropvolgende jaar het hy diens gedoen in die o.21 Puma span ook in die Absa-kompetisie. Hy het verlede jaar vir die Pumas uitgedraf in die Vodacombeker en ook vir Ferro’s gespeel in die Cell C Gemeenskapsbekertoernooi terwyl hy nog tyd ingeruim het om vir die Pumas o.21 span uit te draf in die Absa-kompetisie.

“Ek is baie gelukkig met die Vodacombeker-kontraktering. Dit is vir my ‘n groot eer om weer saam met die seniorspelers te kan oefen en die seniorspelers help graag met raad. Wat my toekomsplanne aanbetref, pas die insluiting in vanjaar se groep 100% daarby in en sal ek graag in Nelspruit wil aanbly om hier klubrugby te speel. Maar, my fokus lê nou eers by die Vodacomreeks,” het Pule gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button