Local sportSport

Kilometer vir kilometer ryg Neels rekords in

Neels Vermeulen het meer kilometers agter sy naam as baie karre.

Terwyl ander hul voete in die lug gegooi en Desember ontspan het, het Neels die Festival of Running aangedurf wat vanaf 16 tot 22 Desember in Johannesburg plaasgevind het.

Net 100 hardlopers kan aan die wedloop deelneem en van die 100 het Neels derde in die mansafdeling en sesde algeheel geëindig.
Neels het die 48-uur rekord en ses-dag rekord sy eie gemaak.
Die vorige Suid-Afrikaanse rekord het gestaan op 142km in 48-uur. Neels het sonder dat hy dit geweet het verbeter na 203km in 48-uur.
“Tussen die hardlopery deur is daar vir my gesê ek het die rekord gebreek, ek was nie eers daarvan bewus nie. Dit was die laaste ding waarop ek gefokus het,” het hy beskeie vertel.

Neels Vermeulen (67) in aksie tydens die Festival of Running wat vanaf 16 tot 22 Desember in Johannesburg plaasgevind het.
Neels Vermeulen (67) in aksie tydens die Festival of Running wat vanaf 16 tot 22 Desember in Johannesburg plaasgevind het.

Die vorige Suid-Afrikaanse ses-dag rekord was 415km, maar Neels het dié een met 59.8km verbeter.
Volgende jaar gaan die hardlopers ’n harde tyd hê om sy 474.8km in ses dae te verbeter.
“Ek was net so verbaas oor daardie rekord. As jy hardloop staan tyd stil en jy is nie bewus van wat daar buite aangaan nie,” het die atleet gesê.
Die wedloop is op ’n 500m grasbaan gedoen. Neels het 1 008 keer om die baan gehardloop.

Hy is besig om voor te berei vir die moordende Comrades Marathon wat op 31 Mei plaasvind.
Vanjaar word die 87km vanaf Durban na Pietermaritzburg gehardloop. Dit is die 90ste Comrades Marathon en vir Neels die 18de waaraan hy deelneem.

Hy het verlede jaar in 11:40:02 klaargemaak.
“Ek het bietjie gesukkel met krampe, dit was nie ’n maklike een nie,” het hy dié legendariese wedloop beskryf waarvoor daar vanjaar reeds 22 142 inskrywings is.

Eric Wright oorhandig die trofee aan Neels Vermeulen nadat hy die ses-dag rekord verbeter het.
Eric Wright oorhandig die trofee aan Neels Vermeulen nadat hy die ses-dag rekord verbeter het.

Neels spog met 27 permanente nommers en sy huis is versier met medaljes, sertifikate en trofeë.
Vir Neels is dit al tweede natuur on elke jaar sowat 3 000km op die pad af te lê, dit beteken dat hy aan ongeveer 90 wedlope in 365 dae deelneem.

Dié fenomenale kilometer-vraat sê hy het nog lank nie die eindstreep bereik nie.

You can read the full story on our App. Download it here.

Back to top button