Editor's choiceLocal sportSport

Driekuns vir Shumba Ferro’s

Shumba Ferro’s het dit weereens reggekry. In hul trofeekas pryk die Super Ligatrofee wat in 2012 en 2013 al sy plekkie stewig ingeneem het tussen al die ander trofee.

Shumba Ferro’s  se eerste span het Saterdag 2 Augustus vir die derdejaar in ’n ry die Mpumalanga Rugbyunie se gesogte trofee gewen toe hulle Sasol 29-11 geklop het in wat omskryf kan word een van die kliphardste finale nog.

Die klub het na die naweek se sege gekwalifiseer vir die Cell C Gemeenskapsbekertoernooi wat in Maart volgende jaar landswyd afskop.
Met soveel op die spel was albei spanne slaggereed om ’n vertoonvenster van Puma klubrugby te wees wat aan alle verwagtinge voldoen het.
Ferro’s het weereens bewys die span besit oor diepte wat broodnodig was in die wedstryd. Met net 13 spelers op die veld, na geelkaarte vir oortredings darem nie vuilspel nie, het hulle tog daarin geslaag om Sasol weg van hul doellyn af te hou.

Jannie van der Merwe mik vir die doellyn. (Foto: Corlia Kruger).
Jannie van der Merwe mik vir die doellyn. (Foto: Corlia Kruger).

Ferro’s het die eerste bloed geruik toe Ruan du Plooy in die hoekie oor is vir hul eerste drie wat met gemak deur Jannie van der Merwe verdoel was.

Sasol het geantwoord en agter Ferro’s se doellyn gaan inloer. Dit was net ’n vinnige inloer want hulle kon nie die ekstra twee punte byvoeg nie.

Jannie het nie op hom laat wag nie  en Sasol dubbel en dwars laat betaal vir die drie wat hulle op die telbord gesit het. Hy het twee strafskoppe oorgeklits om halftyd  op 13-5 aan te kondig.

Ferro’s se gebruiklike sterk tweede helfte is aanvanklik met goeie verdediging deur die Sasol span ingeperk maar met soveel balbesit en ’n pak voorspelers wat stadigaan die oorhand gekry het was dit net ’n kwessie van tyd voor Sasol konsentrasie begin verloor het. Jannie het van die kanse gebruik gemaak om nog twee strafskoppe agter sy naam te sit na herhaaldelike oortredings van die besoekers van Secunda af.

Die spoedvraat, Pule Sibiya wat met ’n bebloede gesig en ’n verkoue gespeel het , het weereens gewys dat daar geen plaasvervanger vir spoed is nie. Hy is beloon met een van sy kenmerkende drieë na ’n volgehoue aanval wat deur sy span geloods is.

Izan Green maak ’n pad deur Sasol se verdediging (Foto: Corlia Kruger).
Izan Green maak ’n pad deur Sasol se verdediging (Foto: Corlia Kruger).

In hierdie wedstryd het die span se strukture deurentyd goed gewerk en is daar vele geleenthede geskep vir die agterlyn om op hul teenstanders af te hardloop. Tommy Collin het op sy beurt die lyn keer op keer gebreek om hardloop-kans aan sy buitekant te skep.
Hy het verdien om as Bolt & Nutspeler van die wedstryd aangewys te word.

Onder die voorspelers moes Sasol toekyk hoe die Ferro agttal soos agterspelers rondhardloop en net nog meer spasie skep vir punte.
Willie Muller wat in die voorry diens gedoen het, het gesorg vir die drie van die dag na uitmuntende samespel tussen die voor- en agterspelers.

Die kaptein van die span Willie van der  Merwe is aangewys as die voorspeler van die wedstryd vir sy besielende leierskap en klipharde rugby.

Shumba Ferro’s spog weereens met die Super Ligatrofee.
Shumba Ferro’s spog weereens met die Super Ligatrofee.

Shumba Ferro’s se kwalifisering vir die Nasionale klubkampioenskappe met die gepaardgaande televisiedekking vir tuis en weg wedstryde bring goeie blootstelling vir eMalahleni.

“Die klub beywer hul deurentyd om by die gemeenskap betrokke te wees en gaan met die deelname in 2015 weereens die stad se naam hoog hou. Daar moet nou reeds skouer aan die wiel gesit word deur die klubbestuur en die stadsraad om die stadion en die omgewing van die stadion op te bou en te onderhou vir die groot rugby wat net wag om tuis gespeel te word,” het Willie Oosthuizen, hoofafrigter van Shumba Ferro’s gesê.

Die klub bedank graag die stadion bestuur ,sy borge en ondersteuners vir ’n baie suksesvolle 2014 seisoen.

Sien meer fotos van die finaal hier.

Back to top button