Vyftigtal in kwarteindstryd vir Shumba Ferro’s

Shumba Ferro’s se eerste span was die afgelope Saterdag op die Puma Stadion in ’n slegte bui toe hulle Barberton ontvang het vir die kwarteindstryd teen Barberton.

Met die span effens onder druk weens beserings en werksverpligtinge het spelers wat gewoonlik reserwes is vir die span Saterdag getoon waarom die klub vanjaar oor diepte in feitlik elke posisie beskik.

Waar daar posisionele veranderinge gemaak moes word het spelers beïndruk met die wyse waarmee hulle met ywer die nuwe rol vertolk het.
Die wedstryd se sukses het reeds begin by die voorrye waar Jan Marneweck, Jaco Marneweck en Warren Shelnack die basis gevorm het vir die oorheersing van Barberton se pak voorspelers. Jackie Smit was weereens baie goed by die afbreekpunte en hy dra vanjaar ook die bal baie goed. Ferro’s sal egter moet waak teen oorgerustheid by die afbreekpunte in die komende halfeindstryd en moontlike finaal.Hulle is geneig om dalk te vinnig te wil speel en dit verongeluk uitstekende aanvalsgeleenthede.

Sodra die span egter binne sy strukture speel is daar min spanne wat die samespel tussen agter- en voorspelers kan verdedig. Die span se fiksheid en atletiese vermoëns van selfs die stutte gaan vanjaar moeilik geklop kan word. Met die oormaat balbesit word daar egter geleenthede weggegooi om drieë te druk en die balle wat aangeslaan word in kontak situasies moet ook aan aandag gegee word tydens die oefeninge die week.

Christiaan Els en sy agterlyn het met elke geleentheid met die bal in die hand gevaarlik gelyk. Ruan du Plooy (Bolt&Nutspeler van die wedstryd) het gewys waarom hy in die Puma Cravenweek (2013 span) gespeel het en vanjaar diens sal doen by die Puma o.19 Curriebeker-span. Willie van der Merwe is verdienstelik aangewys as voorspeler van die wedstryd. Die speler is besig om in een van die beste kapteins te ontwikkel in klubrugby.

Ferro’s was halftyd reeds 25-10 voor en wen die wedstryd 58-24 na hulle 10 drieë druk en Barberton slegs drie keer die doellyn kon oorsteek.
Ferro’s se drieë word gedruk deur Ruan du Plooy (3), Wayne Dreyer, Willie van der Merwe, Werno Smit, Pule Sibiya (2), Jan Marneweck en Jannie van der Merwe. Jannie van der Merwe wat effens sukkel met ’n seer enkel kon slegs met vier doelskoppe slaag.

Jannie van der Merwe sit een neer vir Shumba Ferro’s. (Foto: Sonia van der Merwe).

Ferro’s speel eerskomende Saterdag weer tuis teen hul aartsvyand oorkant die Olifants – Middelburg Rugbyklub. Die groot wedstryd begin om 15:00 en die Puma o.19 span speel in ’n voorwedstryd om 13:30  teen ’n Hoëveld XV.

Sasol wat Nelspruit geklop het in die ander kwarteindstryd (26-10), speel Saterdag teen die Laeveld-kampioene Witrivier in die ander halfeindstryd.

Daar is vanjaar min te kies tussen die top spanne in die unie en is veral Sasol vanjaar ’n buiteperd wat die planne van die groot klubs kan ontspoor. Ferro’s self sal ook Saterdag as ’n kleedrepetisie vir die moontlike finaal moet gebruik en baie meer akkuraatheid aan die dag lê as tydens die wedstryd teen Barberton.

Tydens die wedstryd tussen die buur klubs twee weke terug het Ferro’s met ’n oormaat balbesit baie min geduld getoon op die aanval – Saterdag sal elke bal tel en met veral kontinuïteit op die aanval kan dit ’n lang middag vir die Middelburgers word.

Exit mobile version