Editor's choiceLocal sportSport

Thiren is eMalahleni se ‘karate kid’

’n Jong karateka van die stad het onlangs die eer te beurt geval om Springbok-kleure te verwerf in die sport waarvoor hy so lief is.

Thiren Jacobs (11), ’n lid van JSKAWitbank Karate Akademie het van 26 tot 29 Junie aan die Zone 6 Internasionale Karate Kampioenskappe in Lusaka, Zambië deelgeneem.

Hiértydens het hy ’n derde plek in Kumite (gevegskuns) losbaklei.
Hy was een van slegs twee deelnemers wat Mpumalanga verteenwoordig het tydens die kompetisie.

Jong ‘karate kid’ wys sy staal.
Jong ‘karate kid’ wys sy staal.

Sensei Leon van Vollenstee is nie bietjie trots op sy jongste Springbokkie nie. En glo dat hy dit sommer nog baie ver in dié sport gaan bring.

Thiren, ’n leerling by Laerskool Kragbron, het ses jaar gelede by die karateklub aangesluit en nooit weer terug gekyk.
Ma Karin glimlag breed wanneer sy met haar karate-kampioen spog.

Sy onthou nog Thiren se eerste groot kompetisie waarin hy deelgeneem het. “Hy het toe nie gewen nie, maar ek onthou hoe hy na die tyd vir my gesê het: ‘Mamma dit was lekker! Ek wil dit weer doen’.” Karin het toe geweet – karate is vir Thiren.

Thiren is sedert hy karate begin beoefen het nog elke jaar gekies vir die JSKA Ontwikkelingstoer, wat soms in Namibië plaas vind. Sy ouers het Thiren die kans gegun en hom ondersteun in sy gunstelling sport.

“Dit leer hul baie dissipline,” vertel Karin en meen dat ’n ‘gesonde liggaam’ ’n ‘gesonde verstand’ is. “Mens hoor van so baie jong mense wat so maklik beïnvloed word deur verkeerde mense of vriende en dan verkeerde keuses maak,” verduidelik sy en meen dat sport en veral karate ’n aktiwiteit is wat kinders besig hou en hulle ook dan lewensvaardighede en self-disipline leer handhaaf.

Thiren geniet ook om rugby en krieket te speel by die skool (waar hy ook uitblink in die eerste spanne), maar karate bly maar nommer een. Hy vertel dat hy nou sy rooi gordel het en verduidelik ywerig van die verskeie klere gordels waarnatoe jy opgradeer.

So tussen die graderings deur oefen Thiren hard vir kompetisies. In Januarie het hy aan die Mpumalanga-proewe deelgeneem. Begin van Februarie was hy deur na die SA’s in Bloemfontein waar hy silwer in kumite verower het. Daarna is hy na Durban uitgenooi (23 Februarie) waar hy weer silwer losgeslaan het. Dit was nie lank voor hy toe sy uitnodiging gekry het om aan die dertiende Zone 6 Internasionale Karate Kampioenskappe deel te neem nie.

Wat Thiren se sukses werklik besonders maak is dat al dié kompetisies vir alle karate style was. Thiren, wat slegs Shotokan karate beoefen, het steeds beoordelaars beïndruk tydens sy deelname.

Thiren sien uit na nog baie jare in karate en nog talle meer internasionale titels, maar sy Springbok-kleure is sy groot trots.

Back to top button