Shumba Ferro’s wen Derby-stryd

Shumba Ferro’s het ’n harde en tipiese derby stryd teen hul buurman oorkant die Olifantsrivier geklop om seker te maak dat hul paadjie na die eindstryd in vanjaar se Super Liga ’n bietjie gelyk gemaak is.

Die wedstryd het op Saterdag 12 Julie by die Puma Stadion plaasgevind.

Middelburg was met reg stert in die lug na hul puik oorwinning oor Groblersdal in ag geneem dat Ferro’s gesukkel het om die Dallers met 24-21 te klop.

Ferro’s het egter hul eie planne deur die seisoen beraam en Middelburg Saterdag met puik taktiese spel en onverbiddelike verdediging huis toe gestuur met ’n kous oor die kop. Ferro’s was voorbereid op Middelburg se spelpatron en met puik kommunikasie tussen voor- en agterspelers kon Middelburg nie hondhaar af maak met die bal in die hand nie.

Ferro’s het vroeg in die wedstryd reeds 6-0 voorgeloop na tweede strafdoele deur Jannie van der Merwe. Middelburg het egter ’n verspot maklike drie gekry en na nog drie strafskoppe met halftyd 16-6 voorgeloop. Dit was egter die laaste punte wat Middelburg kon aanteken.
Met Ferro’s wat alreeds in die skrums en lynstane die oorhand gehad het was dit net ’n kwessie van tyd voor die punte begin rol het.

Jeandi Oosthuysen oor die lyn vir Ferro’s se eerste drie op Saterdag 12 Julie.

Na ’n puik lynstaandryf net na halftyd is Jeandi Oosthuysen oor vir Ferro’s se eerste drie. Met die telling op 16-11 en die minute wat aftik het Ferro’s die wedstryd op sy kop gedraai na ’n puik drie deur Ruan du Plooy. Met Tommy Collin se doelskop in die kol wen Ferro’s die wedstryd 18-16.

Winsin Theron het met sy lynstaanspel die Bolt& Nut speler van die wedstryd toekenning verdien. Die o.21 gewese HTS Witbank speler het Middelburg lam gehad in die lynstane en feitlik elke lynstaan bal of afgeneem by hulle of liederlik bederf.

Ruan du Plooy, ook ’n o.19 speler is verdienstelik aangewys as agterspeler van die wedstryd. Hierdie twee jong spelers gaan nog diep spore trap by Ferro’s in die toekoms.

Ferro’s speel Saterdag 19 Julie in die kwarteindstryd teen Barberton op die Puma Stadion. Barberton is self in moeilike teenstander met ’n groot pak voorspelers en berug vir hul inklim spel. Die wedstryd begin om 16:00 Saterdag.
Exit mobile version