Karate-boeties is wêreldklas

Sensei Leon van Vollenstee en sy span is terug van Italië af en hulle spog met 46 medaljes. Vyf van daardie medaljes hang nou in ’n huis hier in eMalahleni.

Twee lede van die span wat aan dié Wêreldkampioenskap, genaamd die Shotokan Karate Assosiasie (JSKA) Wêreldkampioenskap in die pragtige dorpie Terni, deelgeneem het, is van eie bodem.

Die medaljes hang in die twee boeties Lwandisa (15) en Mlongisi (17) Ndlovu se ouerhuis.

Die medaljes wat Mlongisi en Lwandisa Ndlovu teruggebring het van die Shotokan Karate Assosiasie (JSKA) Wêreldkampioenskap af.

Mlongisi het ’n brons gekry vir individuele kata, ’n brons vir
span kata en in kumite het hy ’n silwer medalje verdien.
Lwandisa het brons medaljes vir span kata en ook kumite verwerf.

Mlongisi kon nie uitgepraat oor die kompetisie nie. Hierdie ekstrovert het gesê dié kampioenskap het sy wildste drome oortref.
“Dit was amper oorweldigend met ons aankoms by die kampioenskap. Ek het vir die eerste keer in my lewe gevoel hoe dit voel om werklik trots op jou land, jou taal, jou vlag en jou volkslied te wees toe ek daar instap,” het Mlongisi gesê.

Hy was ietwat teleurgesteld oor die tweede plek in die kumite afdeling, “Ek weet ek is ’n goeie vegter. Kumite is my spesialiteit en ek wou baie graag gewen het. Maar ek het ’n boodskap vir die ander deelnemers, ek kom terug en die goue medalje het my naam op.”

’n Baie meer skugter Lwandisa het gesê hy hou meer van kata omdat dit ’n kuns is en die heeltyd daaraan werk om dit perfek te kan doen.
Hy het in dieselfde groep as sy boetie meegeding in die kumite-afdeling.

“Dit is baie jammer dat ek so vroeg uit is, ek sou daarvan gehou het om teen Mlongisi te staan te kom en hom ’n goeie les te leer,” het hy speels gesê.

Behalwe vir karate blink Lwandisa ook uit in rugby.
“Dit is die tweede jaar agtereenvolgend dat ons span tweede in Mpumalanga eindig,” het hy breëbors vertel en bygevoeg hy speel heelagter.
Me. Fredah Ndlovu kon net nie ophou glimlag oor haar twee seuns se prestasies nie.

“Ek is opreg dankbaar dat ek twee sulke voorbeeldige seuns het wat alles wat hulle aanpak met passie doen,” het sy gesê.
Sensei Leon het gesê die twee boeties se grootste eienskap is hul nederigheid.

“Hulle is onder die beste in die wêreld en tog bly hul nederig. Dit is een eienskap wat jy nie kan koop nie, dit begin by die huis. Lwandisa en Mlongisi het my verskriklik baie trots gemaak,” het hy gesê.

Mnr. Vink Marais, hoof van Hoërskool Patriot waar die Ndlovu boeties skoolgaan het gesê sy bors laat sy hemp se knope oopspring van trots oor die twee leerders.

“Hierdie twee seuns is ons skool se trots. Dit is vir my lekker om te gaan spog en vir ander te vertel van die eer wat die tweetjies toekom,” het  hy gesê.

You can read the full story on our App. Download it here.
Exit mobile version