HomesLocal sportSport

Shumba Ferro’s oor eerste hekkie

Shumba Ferro’s het verlede naweek in gietende reën oor hul eerste hekkie gekom met ’n geskiedkundige oorwinning oor Wesbank (Boland).

Die wedstryd Saterdag 8 Maart was deel van die Nasionale Klubkampioenskappe wat tans bekendstaan as die Cell C Gemeenskapsbeker-reeks.

Met baniere en televisiekameras was die tafel gedek vir ’n groot dag van rugby in eMalahleni en die twee spanne het glad nie teleurgestel nie.

Ferro’s het vroeg reeds bloed geruik toe Tommy Collen oor is vir ’n drie reg langs die pale en met Dewald Pieters se skopvoet op teiken was Ferro’s gou 10-0 voor.

Wesbank het egter hul snellers ingespan en met ’n paar slim bewegings om die skrums drie drieë gedruk om die halftyd-telling op 10-15 te staan te bring.

Die praatjie in die kleedkamer moes seker gesensor word, want toe Ferro’s halftyd op die veld kom was daar net een span op die veld.

Die voorspelers het met dryflopies vele fasette afgedwing waarvandaan die agterlyn aanval op aanval kon loods op die Bolanders se doellyn.

Pule Sibiya wys waarom hy saam met die Pumas oefen en druk sy eerste drie vanaf die halflyn vanwaar hy seker ses verdedigers klop. Pieters slaag met die doelskop en na nog twee strafskoppe deur Pieters en ’n juweel van ’n individuele drie, weer deur Sibiya, was die wedstryd in die sakkie.

Izan Green (voorspeler van die wedstryd) en Dewald Pieters (Bolt & Nut Speler van die Wedstryd) word welverdiend vir hul prestasie op die veld beloon.

Driee: Pule Sibiya (twee) en Tommy Collen. Pieters vier strafskoppe en drie doelskoppe vir ’n persoonlike bydrae van 18 punte. Pieters is ook na die naweek die top puntemaker in die Cell C Gemeenskapbeker-reeks met Pule Sibiya wat ook in die Top 10 opgeneem is met sy twee drieë.

Ferro’s speel eerskomende naweek weer tuis teen die omgekrapte Rustenburg Impala-span. Die wedstryd word alreeds bemark as “The battle of the miners”. Die wedstryd begin om 15:30 op die Puma-stadion en voorwedstryde skop alreeds om 12:45 af. Die Lorent Ferro’s XV speel in hul Puma ligawedstryd teen Standerton.

Die Lorent Ferro’s XV het self Saterdag korte mette gemaak met die Kriel manne en wen hul wedstryd met 34-0. Hul drieë word gedruk deur: Niel Badenhorst (twee), Stefan van Rooyen, Jannie van der Merwe, Devon Gibbons en Jaco de Beer. De Beer en Van der Merwe slaag ook elkeen met ’n doelskop. Die Bolt & Nut Speler van die Wedstryd was Lesley Orton en die agterspeler van die wedstryd Niel Badenhorst.

Die span is besig om wedstryd na wedstryd te verbeter en kan die klub redelik gerus wees oor die diepte in die junior spanne. Daar is ’n paar manne wat sterk aan die eerste span se deur klop met veral Emilio Skosana wat veral op voorry beïndruk het.

Back to top button